Ongeluk eis twee jong lewens
THABAZIMBI – ‘n Kop-aan-kop botsing op die Thabazimbi Northam teerpad het verlede Saterdagoggend, 28 Mei om ongeveer 04:30, twee jong mans se lewens geëis. Die ongeluk het 25 kilometer buite Thabazimbi plaasgevind.
Hermanus Jacobus Steyn (20), met ‘n 1400 Nissan bakkie, was onderweg na Amandelbult en Willem Hendrik Taljaard (23), met sy Volkswagen City Golf, was onderweg na Thabazimbi. Na wat berig word, het Taljaard se voertuig aan die brand geslaan by impak. Beide oorledenes is opslag dood.
‘n Saak van strafbare manslag is geopen en word ondersoek. Indien enige ooggetuies lig kan werp met betrekking tot die botsing, kan hulle inspekteur Nattie Groenewald kontak by 083 246 1639.