General

HFM presteer by Eisteddfod

THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer se leerlinge het uitstekend presteer by die  Eisteddfod te Pretoria wat reeds op 27 April begin het en op 4 Junie ten einde loop. Die leerlinge is aan me René Thuynsma se musiekskool verbonde en sy het hierdie jaar van haar studente se vermoëns getoets deur hul in te skryf vir hierdie hoogs aangeskrewe kompetisie.
Hulle het aan die klavier afdeling deelgeneem en die volgende prestasies behaal:
Hannes Kok (Gr 7) behaal ‘n B+ en ‘n A+ vir sy klavier solo, Corleen de Kock
(Gr 6) behaal twee A+’se vir haar klavier duet, Louise de Kock (Gr 7) behaal ‘n A+ vir haar klavier duet en Li-Anré Thuynsma (Gr 7) behaal ‘n A+ sowel as ‘n A++ vir haar klavier duet.
Die Pretoria Eisteddfod is die grootste Eisteddfod van sy soort landwyd. Tussen 7000 en 10 000 inskrywings word jaarliks vanaf Mpumalanga, Limpopo Provinsie, Rustenburg en Johannesburg ontvang wat bewys wat dié kompetisie nie net die metropool area bedien nie. Dit word aangebied deur die Pretoria-tak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SAVMO) en is bekend vir sy omvang en kwaliteit.
Elke deelnemer word die geleentheid gebied om ‘n sertifikaat en ‘n beoordelaarsmening van ‘n span beoordelaars te ontvang. Geleenthede word gebied vir individuele deelname sowel as in groepverband soos ensemble, kamermusiekgroepe, toneel, kore en orkeste. Daar word jaarliks ongeveer 200 trofeë in die 15 onderskeie afdelings toegeken.