Ongeluk eis man se lewe

THABAZIMBI – ‘n Motorongeluk wat verlede Saterdagaand om 19:45 op die Sentrumpad plaasgevind het, het ‘n man, Herold John van der Poll (32) se lewe geëis. Rano Lohmann (21) van Thabazimbi, en van der Poll was onderweg na die plaas Coetzee Beleggings, toe die ongeluk gebeur het. Van der Poll was ‘n kontrakteur by Amandelbult en het op dié plaas gewoon.
Na wat berig word, het Lohmann uitgeswaai vir ‘n dier in die pad en beheer oor die voertuig verloor. Van der Poll is uit die motor geslinger toe dit gerol het en het aan inwendige- en kopbeserings beswyk. ‘n Saak van manslag is geopen en word ondersoek. Die oorledene was van Springbok en is daar begrawe. Hy laat sy vriendin en hul kind na.