General

Limpopo Expo skop af op Vaalwater

VAALWATER – Vaalwater was hierdie week die ene bedrywigheid met die tweede Limpopo Expo wat daar aangebied word. Die Expo strek tot Saterdag 28 Mei.
Verskeie uitstallers, hoofsaaklik van handgekerfde produkte, kralewerk en skilderye, alles hoofsaaklik met ‘n Afrika motief is by die uitstallings te besigtig en te koop.
Die Expo se amptelike opening is Dinsdagaand deur die premier van Limpopo, Sello Moloto waargeneem. ‘n Spitbraai-ete sowel as lewendige vermaak het deel van die openingseremonie gemaak.
Vaalwater is gekies vir die aanbieding van die Expo aangesien dit redelik sentraal geleë is tussen al die groot provinsiale en privaat wildbewaringsgebiede asook toerisme bestemmings in die omgewing. Met al die miljoene rande wat in die ontwikkelings om Vaalwater bestee is, het die dorpie maar relatief min gegroei. Hierdie Expo sal hopelik die situasie verander en meer besigheid van die omringende natuurreservate na die dorp lok.
Die eerste Expo is verlede jaar aangebied met ‘n katalogus wildveiling as die enigste groot aktiwiteit. Hierdie jaar is die Expo uitgebrei met lewendige vertonings, seminare, uitstallings asook die wildveiling waar diere, buiten die katalogusveiling, ook in hokke opgeveil gaan word. ‘n Aantal trofeejagpakkette sal ook opgeveil word. Hierdie veiling vind Saterdag 28 Mei om 12:20 plaas. Registrasie is vanaf 08:30 tot 10:00. Daar word ook spesiaal tyd ingeruim vir die jeug met veral Saterdag, Afrikadag, wat aan hulle toegewy gaan word.