Hervormdes hou basaar
THABAZIMBI – Die Hervormde gemeente se basaar vind Saterdag 4 Junie by hul kerkterrein plaas. Die tema is Boemelaars en die stalletjies sal sover moontlik volgens die aard en norm van die tema ingerig word.
Die gemeenskap van Thabazimbi en omgewing word genooi om dié dag saam met die Hervormdes fees te vier en deel te hê aan die heerlike kuier en gesellige saamwees. Die funksie neem om 08:30 in aanvang en sal duur tot 15:00.
Heerlike wors, maalvleis, smullekker pannekoek, keurige gebak, egte basaarpoeding en kraakvars vetkoek en maalvleis word te koop aangebied. Die pryse wat by die tombola gewen kan word, sal die kleingoed grootoog daaraan laat deelneem. Ouers kan dan die huishouding se voorraad aanvul deur vrugte, groente en vele meer by die Plaasstal aan te koop.
Die moeë voete kan rus kry by die restaurant wat in die kerksaal ingerig is. Hier sal heerlike eet- en drinkgoed aangebied word. Middagete vind van 13:00 tot 15:00 plaas en etekaartjies sal by die basaar beskikbaar wees. Die ete sal uit pap, sous en vleis bestaan en die organiseerder by die middagmaal is me Maryna Loots.
Speletjies sal skyfskiet insluit waar aantreklike pryse op die spel is en vir die kleingoed sal daar ‘n springkasteel en boeresport wees. Die veiling wat om 12:00 plaasvind, móét bygewoon word. Benewens waardevolle artikels wat opgeveil gaan word, sal daar ook ‘n verskeidenheid wyn wees. Hierdie veiling vind onder die wakende oog van Willa Smit plaas.
Die baardgroeikompetisie wat die afgelope twee maande vir menige vrou ontrekkingsimptome gegee het, wat die manne laat jeuk, krap en tyd laat omwens het, kom tussen 12:00 en 13:00 tot ‘n einde wanneer die beoordeling plaasvind. Almal is welkom om die spesiale dag met hulle gesinne en vriende te geniet. Vir verdere besonderhede kan ds Loots, me Loots of Christa Marshall gekontak word by (014) 772 1137.