Sport

Gimnastieknuus

THABAZIMBI – Die Thabazimbi Gimnastiekklub het ter voorbereiding van die Limpopo Provinsiale Kompetisie, op 23 April by die E’Carte Kompetisie gaan deelneem. Warmbad-, Ellisras- en Nylstroomklubs was ook teenwoordig. Thabazimbi se gimnaste presteer baie goed en verower altesaam 14 medaljes.
Daar is 13 gimnaste ingeskryf vir die Limpopo Provinsiale Kompetisie wat plaasgevind het op Louis Trichardt. Sewe van hierdie gimnaste het hul Provinsiale Kleure ontvang met uitslae as volg:
Seuns Pre-Lev – Ruben Clinton neem deel aan die 6 jaar en jonger afdeling. Ruben verwerf twee derdeplekke op die Brug en op die Vloer en eindig algeheel vierde. Kenny Collignon (‘n beginner gimnas wat slegs vier maande lid van die klub is) verwerf twee tweedeplekke in Spronge en Brug asook ‘n derdeplek op die vloer.
Seuns Vlak 1 – JC Pretorius en Clemens Steenkamp neem deel aan die 7 jaar en jonger afdeling. JC eindig in die sewendeplek en behaal sodoende sy Provinsiale Kleure.
Dogters Vlak 1 – Leonette van Rensburg neem deel in die 12 jaar en jonger afdeling en behaal ‘n eersteplek op die brug. Sy ontvang ook haar Provinsiale Kleure.
Dogters Vlak 2 – Ka-Ria du Toit behaal ‘n derdeplek op die Spronge en verwerf haar Provinsiale Kleure. Dogters Vlak 3 – Friedelene Fetzer het haar Provinsiale Kleure vir die vierde agtereenvolgende jaar verwerf. Sy behaal derdeplekke op die Brug en op die Vloer en eindig algeheel vierde in die 10 jaar en jonger afdeling. Robynne Els het deelgeneem in die 12 jaar en jonger afdeling en eindig algeheel in die vyfdeplek wat ook haar Provinsiale Kleure aan haar besorg.
Die Provinsiale gimnaste neem op 4 Junie deel aan die Limpopo Gimnastiek Spele om te kwalifiseer vir deelname aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe wat in Pretoria plaasvind.