Eskom sonder water
THABAZIMBI – Die afgelope Maandag het Eskom met ‘n krisis gesit nadat hul watertoevoer deur die munisipaliteit om 08:00 opgeskort is. Buiten die ongeveer 20 personeellede wat sonder water- en toiletgeriewe moes klaarkom, was daar ‘n klas met kursusgangers wat ook deur die ongerief geraak is. Water is van ‘n nabygeleë huis aangedra om die ergste ongemak te probeer verlig.
Volgens ‘n Eskom woordvoerder, het hierdie opskorting gekom nadat daar ‘n rekening van R888 deur Eskom Pietersburg, teen verlede Vrydag elektronies oorbetaal is, maar nie deur die munisipaliteit bevestig kon word nie aangesien hul stelsels van lyn af was.
Kort na die voorval was die munisipale werkers terug om ook die kragtoevoer te staak. Eskom werknemers het egter geweier dat hierdie opdrag ook uitgevoer word aangesien hulle die bewys van die betaling gehad het. Hierdie bewys is persoonlik deur ‘n Eskom werknemer na mnr Wessel de Clercq geneem. Eers hierna is opdrag gegee dat Eskom se watertoevoer herstel kon word. Die regstelling het teen ongeveer 13:00 plaasgevind.
Die munisipale tesourie afdeling het gesê dat hulle nie by magte is om kommentaar te lewer nie. Daar is egter genoem dat Eskom nie die enigste groot maatskappy was wie se toevoer Maandag gestaak is nie.
Nog ‘n groot maatskappy, wat aan Die Kwêvoël bekend is, wie se kragtoevoer afgesny is het bevestig dat hul rekening wel betaal was. Hulle het die week tevore ‘n strokie van die munisipaliteit ontvang waarin hulle gewaarsku is om hul rekening te vereffen om opskorting te voorkom. Die betalingsadvies is dieselfde dag na die munisipaliteit deurgefaks, maar die opskorting is nie te min steeds Maandag uitgevoer.
Thaba Spar se krag was ook opgeskort. By Die Kwêvoël se navraag aan die bestuurder van Thaba Spar, mnr Hannes Coetzee, het hy bevestig dat hul kragtoevoer opgeskort was as gevolg van ‘n despuut tussen hom en die munisipaliteit oor hul vullisverwydering. Coetzee sê dat Thaba Spar se vullisverwydering gewoonlik tussen R800 en R1000 per maand beloop het. Die afgelope maand se vullisverwydering was ongeveer R3500. By Coetzee se navraag aan die munisipaliteit is hy meegedeel dat hy by Wastetech moet navraag doen. Wastetech het hom terug verwys na die munisipaliteit en gesê hulle is nie in beheer van die rekeninge nie. Thaba Spar se elektrisiteitsrekening van ongeveer R30000 vir die maand was wél betaal. Hy het egter geweier om vir die vullisverwydering te betaal totdat die probleem opgelos is. Thaba Spar se kragtoevoer is toe opgeskort en eers twee ure later herstel.
Op Die Kwêvoël se navrae aan die munisipale woordvoerder, mnr Sigale Pilane, oor die stand van agterstallige diensterekeninge, het hy gesê dat hy sou terug skakel. Ter perse gaan, het hy steeds nie teruggeskakel nie. Toe hierdie navrae opgevolg is, is sy selfoon deur ‘n vrou beantwoord wat gesê het dat Pilane nie beskikbaar is nie.