Lodge eienaars en Telkom vergader
THABAZIMBI – Lodge eienaars in die omgewing het saamgestaan en ‘n vergadering op 10 Mei by Komma Nader Gastehuis met Telkom belê waartydens hulle hul griewe aan Telkom gestel het.
Die vergadering kom na aanleiding van die gedurige onderbrekings in Telkomdienste wat in die omgewing ondervind word. Dit het daartoe gelei dat ‘n skrywe aan die Hoof Uitvoerende Beampte van Telkom gerig is waarin melding gemaak is van die kroniese onderbrekings wat dae, en soms tot weke neem om herstel te word.
Tydens die vergadering was Lodge- en plaaseienaars redelik warm onder die kraag en het teenoor die ses Telkom verteenwoordigers hul griewe soos die verlies aan inkomste, gevare soos veldbrande, aanvalle en siektes op plase, gelug. Volgens mnr Theo Erasmus, een van die vakansieplaas eienaars in die omgewing, was Telkom se verweer dat die toerusting verouderd is en dat hulle met ‘n personeel tekort sit.
Erasmus het bygevoeg dat Telkom aangevoer het dat die beperkte huurhuise en die duur kooppryse van eiendom op Thabazimbi, daartoe bydra dat Telkom personeel hulle na ander dorpe wend.
Die Lodge- en plaaseienaars het Telkom ‘n maand gegun om terug te antwoord met ‘n aanvaarbare plan oor hoe toekomstige onderbrekings hanteer sal word en wat omtrent die verouderde toerusting gedoen gaan word.
Volgens die streekvoorsitter van die TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert, ondervind telefoongebruikers in die Vaalwater- en Alma gebiede ook probleme.
Die voorsitter van die Vaalwater DLU, prof Van der Merwe, het aangedui dat bykans 600 kliënte in die gebied die afgelope maand op twee geleenthede vir tydperke wat wissel van drie dae tot twee weke en meer, sonder Telkom dienste moes klaarkom. Dit was as gevolg van weerligskade aan torings.
Volgens ‘n Telkom woordvoerder in Pretoria, is die stelsel verouderd (vyf jaar oud) en geen nuwe onderdele is meer beskikbaar nie. Van die beskadigde onderdele is na Frankryk gestuur vir herstelwerk en gebruikers moes wag totdat die onderdele terug was.
Van der Merwe het aangedui dat die kwaliteit van Telkom diens op die platteland baie stadig, duur en onbetroubaar is. Ten spyte van die ongelooflike wins wat Telkom in die laaste finansiële boekjaar behaal het, is aangedui dat Telkom se dienste op die platteland nie winsgewend is nie en dat dit daarom nie opgradeer of verbeter gaan word nie.
Joubert het aangedui dat TLU-SA Noordstreek kommunikasie as een van die noodsaaklikste dienste beskou waarsonder die grondeienaar in landelike gebiede moeilik kan oorleef. Kommunikasie is nie alleen noodsaaklik vir administrasie doeleindes nie, maar ook om die veiligheid van elke landelike persoon te verseker, veral in die lig van die feit dat die kommandostelsel nou finaal vernietig is.