Dankie vir borge
Thabazimbi rugbyklub is baie bevoorreg om soveel ondersteuning van borge en veral Amandelbult Myn te ontvang. Geen klub kan bestaan sonder finansiële hulp nie, dit is baie duur om rugby selfs op die platteland aan die gang te hou. Miskien is dit nog duurder omdat spelers ver moet ry na hulle klubs en na die rugbyklubs van hulle opponente vir wedstryde.
Aan die einde van 2001 is daar met Mnr Uys (Bestuurder Amandelbult Myn) onderhandel om die rugbyklubs van Amandelbult en Thabazimbi te laat saamsmelt. Hy het daartoe ingestem en ook as die hoofborg van Thaba rugby toegetree en is tans President van die Thaba Rugbyklub.
Met Amandelbult Myn as hoofborg en al die ander borge wat so graag betrokke is en bydraes lewer sal Thaba rugby net van krag tot krag kan gaan. Met al die woelinge in SA rugby weet ‘n mens ook nie of iemand weer gaan belangstel om klubrugby weer ‘n krag te wil maak nie.
Die enigste manier waarop rugby weer ‘n krag sal word is om al die “fatcats” wat net vir geld speel en vir wie rugby, so lyk dit, ‘n bysaak is, weer by klubrugby in te laat skakel.
Al die slim mense kan maar sê wat hulle wil, provinsiale rugby was beter toe spelers nog uit hulle klubs gekies was om hulle provinsie te gaan verteenwoordig. Nou speel spelers wat dit nie altyd verdien nie Provinsiaal en die talentvolle speler wat regtig hard werk en week na week kook kry nie die geleentheid om te speel nie.
Plattelandse klubs word twak gevoer met Provinsiale Amateurspanne wat hulle spelers kan gaan verteenwoordig. Die probleem is dat daardie spanne nie deur plattelandse spelers verteenwoordig word nie. Uit die Waterbergstreek is daar nie een speler wat gekies is nie en dit is nie omdat daar nie talent is nie. Dit is makliker vir die afrigter van Pietersburg om spelers naby aan hom te kies, want hulle kan ten minste al sy oefeninge bywoon. ‘n Speler van Thabazimbi moet oor die 600 kilometer ry om ‘n oefening by te woon. Wat is daardie speler se kans om ‘n wedstryd te speel of om die hele seisoen te speel.
Mens het mense met passie en toewyding nodig om rugby te dien en aan die gang te hou, maar jy het ook die mense nodig wat die finansies hoog hou.
Daarom wil Thabazimbi vir sy hoofborg, Amandelbult Myn en al die ander borge wat hom hierdie jaar ondersteun, sê baie dankie, ons wen vir julle en ons sal aanhou wen solank julle ons so ondersteun.
Rugby lê ons na aan die hart en ons weet ons borge voel dieselfde.
Jan Engelbrecht – Thaba Rugbyklub