Wildstropery bron van kommer
Dit is vir die Pietersburg DLU ‘n groot bron van kommer dat die tendens van wildstropery nou al die vlak bereik het waar van gevaarlike gifstowwe gebruik gemaak word om op groot skaal vrektes te veroorsaak.
Dit is nou al ‘n geruime tyd dat wildstropery in die Pietersburg DLU gebied groot verlies aan inkomste vir die boere veroorsaak. Ook het dit al tragiese gevolge gehad waar mense hul eiendom probeer beskerm het. Ons dink maar aan die geval van Riaan Botha, wat tans gevangenisstraf uitdien.
Verder is dit onverstaanbaar hoedat dodelike gifstowwe vryelik op straat beskikbaar is. Dit terwyl die DLU weet dat boere baie nougeset hul gifstowwe agter slot en grendel hou. Die DLU is dankbaar om te sien dat die Departement Natuurbewaring en die SAPD ‘n ernstige poging aanwend om teen dié spesifieke misdaad op te tree en dan ook al redelik sukses behaal het deur verskeie arrestasies.
Die DLU doen egter ‘n ernstige beroep dat daar daadwerklik opgetree word teen die mense wat die gifstowwe so vryelik op straat verkoop en dat die verskaffingsbron opgespoor en uit die samelewing verwyder word. Hulle maan lede en medeboere om versigtig te wees en enige ongerymde vrektes van wild onverwyld by die SAPD aan te meld.