General

Vaalwater en Alma weke sonder telefoon

Die Streekvoorsitter van TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert, het kommentaar gelewer na aanleiding van die probleme wat telefoongebruikers in die Vaalwater en Alma gebiede ondervind. Hy het gesê dat nieteenstaande die regering se beleid dat die platteland besondere aandag moet kry wat dienslewering betref, dit nie so in die praktyk toegepas word nie.
Die voorsitter van die Vaalwater DLU, prof Van der Merwe, het aangedui dat bykans 600 kliënte in die gebied die afgelope maand op twee geleenthede vir tydperke wat wissel van drie dae tot twee weke en meer, sonder Telkom dienste moes klaarkom. Dit was as gevolg van weerligskade aan torings.
Volgens ‘n Telkom woordvoerder in Pretoria, is die stelsel verouderd (vyf jaar oud) en geen nuwe onderdele is meer beskikbaar nie. Van die beskadigde onderdele is na Frankryk gestuur vir herstelwerk en gebruikers moes wag totdat die onderdele terug was.
Van der Merwe het Telkom bedank dat daar wel ‘n korting op rekeninge ontvang is – meer as ‘n maand se huurgeld is as korting op rekeninge aangedui. Hy het verder gesê dat die reaksie van Telkom Pretoria baie vinnig en vriendelik was ten opsigte van telefoonoproepe en dat die DLU op datum gehou was van vordering van die herstelwerk. Van der Merwe het aangedui dat die kwaliteit van Telkom diens op die platteland baie stadig, duur en onbetroubaar is. Ten spyte van die ongelooflike wins wat Telkom in die laaste finansiële boekjaar behaal het, is aangedui dat Telkom se dienste op die platteland nie winsgewend is nie en dat dit daarom nie opgradeer of verbeter gaan word nie.
Die volgende is skriftelik aan Telkom versoek: Wat is die voorsorg wat nou getref word om toekomstige weerligskade te verhoed? Sal voldoende bystandonderdele voortaan in voorraad gehou word om deurlopende diens te verseker?
As Streekvoorsitter het Joubert aangedui dat TLU-SA Noordstreek kommunikasie as een van die noodsaaklikste dienste beskou waarsonder die grondeienaar in landelike gebiede moeilik kan oorleef. Kommunikasie is nie alleen noodsaaklik vir administrasie doeleindes nie, maar ook om die veiligheid van elke landelike persoon te verseker, veral in die lig van die feit dat die kommandostelsel nou finaal vernietig is.