General

TLU-SA nie teen AgriSEB

TLU-SA Noordstreek is nie teen die toetrede van swart kommersiële boere, soos algemeen deur teenstanders gepropageer word nie, het mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU-SA Noordstreek gesê. TLU-SA staan vir die behoud van volhoubare kommersiële landbou en die toetrede van nuwe kundige boere is ‘n noodsaaklikheid.
Om dit konstruktief te bestuur moet ekonomiese beginsels en markkragte die proses bepaal. Die toetrede word dus deur kundigheid en die wil om te boer bepaal en nie deur die etnisiteit van die toetrede nie. Met AgriSEB is die etnisiteit van die toetrede deur Wet 53 van 2003 bepaal. TLU-SA bevorder steeds die uitgangspunt dat dit ‘n Ekonomiese Bemagtiging moet wees waardeur elke toetrede op meriete kans behoort te kry.
Die beginsel van die reg op privaat eiendomsbesit is die ononderhandelbare uitgangspunt vir kommersiële landbou. Die besit van eiendom gee aan die boer die noodsaaklike sekuriteit om ekonomies te kan boer. Hoewel die bestuurskomitee hiervan kennis geneem het, wil AgriSEB steeds die ontwikkeling van die landbou ten koste van die blanke boer se posisie bevorder. Die proses is ras- en ideologies gedrewe en hoort nie in so ‘n sensitiewe saak soos voedsel- en veselproduksie nie.
Uitvoerbaarheid- en impakstudies is die tweede belangrike punt waarop TLU-SA aandring om volhoubare en mededingende landbou te verseker in die transformasiepolitiek. Die noodsaaklikheid van die studie word telkens geïgnoreer wetende dat die uitkomste van só ‘n studie die onuitvoerbaarheid van AgriSEB sal uitwys.
“TLU-SA is steeds bereid om met die regering, en veral met die LUR vir Landbou, me Magadzi in gesprek te tree,” het mnr Dries Joubert van TLU-SA Noordstreek gesê. Hy het voorts gesê dat dit noodsaaklik is dat die LUR die verkose strukture gebruik indien sy met rolspelers wil kommunikeer. Hy het gesê dit is in die landsbelang dat soveel as moontlik nuwe boere kommersieel tot die boerdery moet toetree en TLU-SA Noordstreek sien daarna uit om deel van ‘n volhoubare proses te wees by wyse van aanbied en oordrag van kundigheid.