Quad Rally ‘n reuse sukses
Die voorsitter van Pietersburg DLU, mnr Jannie Jacobs het mnr Martin Venter en sy familie bedank vir die aanbieding en uitstaande voorbereiding wat gedoen is om die Quad Rally op Venter se plaas, Zuurbosch, in die Bylsteel area, aan te bied.
Meer as 70 quad motorfietse, wat gewissel het van 100cc tot 600cc, het in verskillende afdelings deelgeneem. Deelnemers het in die kinder-, junior-, vroue- en ope afdelings deelgeneem. ‘n Uitstaande kenmerk was die deelname van families. Een van hierdie families was Pieter van der Merwe en sy twee seuns wat almal tweede-plek trofeë gewen het in die kinder-, junior- en ope afdelings.
Die baan was 15 kilometer lank en het deur die rowwe bosveld terrein geseil, met een modderpoel vir ekstra pret. Elke deelnemer moes ses rondtes voltooi, plus een oefen rondte, wat ‘n totaal van 105 kilometers was. Jacobs sê die ‘stof storm’ wat deur die quad’s veroorsaak is, het dit meer avontuurlik vir die motorfietse gemaak en bygedra tot die groot sukses van die dag.
Die veiligheidsprosedures was ook baie goed georganiseer met ‘n dokter wat die dag teenwoordig was met ‘n ambulans en helikopter op bystand. Daar was gelukkig geen voorvalle nie.
‘n “Quad Bike Raffle” is ook aangebied en almal wat kaartjies gekoop het, het ‘n kans gestaan om hierdie quad, ter waarde van R20 000, te wen. Mnr Seun Piek van Polokwane was die gelukkige wenner. Die dag se pret is afgesluit met ‘n spitbraai die aand en Gerrie Pretorius het die gaste vermaak.
Jacobs het gesê hierdie was die DLU se eerste byeenkoms van sy soort en dat daar plek is vir verbetering, maar dat hulle hoopvol is dat die volgende rally sal groei en beter en groter sal wees. As gevolg van die reuse sukses van die dag, het Jacobs aangekondig dat die volgende byeenkoms in September sal plaasvind.
Jacobs het inwoners van Polokwane en omliggende gebiede uitgenooi na die volgende rally. Hy het gesê dat so ‘n dag ‘n wonderlike geleentheid vir ‘n gesin is om die dag saam deur te bring. Vir navrae kan Wilma Prinsloo gekontak word by (015) 297 3784.