General

Oorwinning vir privaat eiendomsreg

“TLU-SA Noordstreek wens mnr Braam Duvenhage en sy regspan geluk met die uitspraak van die konstitusionele hof oor grondbesetting deur plakkers op die plaas Modderklip,” het mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU-SA Noordstreek gesê.
Die uitspraak van die konstitusionele hof is ‘n oorwinning vir die beginsel van privaat eiendomsbesit. Dit is ‘n aanduiding dat die regering nie sy aanspreeklikheid op die boer kan afskuif as hy wetlik verantwoordelik is vir die verskaffing van alternatiewe huisvesting en die beskerming van privaat eiendom nie. “Dit is jammer dat die departement die volle regspad moes loop om op sy konstitusionele verpligtinge om die burgerlike regte van die grondeienaar te beskerm, gewys te word,” het Joubert gesê.
Hy het gesê die skade en trauma wat die Duvenhages moes deurmaak, onberekenbaar is en die owerheid behoort ook daar sy verpligting na te kom.
Joubert het gesê die Makhado munisipaliteit behoort duidelik kennis te neem van die uitspraak van die Grondwetlike hof. Veral in die lig van die optrede van die Munisipale Bestuurder tydens die plaasinval in die Louis Trichardt gebied waar sy die leidende rol gespeel het.
Joubert het bygevoeg dat die Grondwetlike hof ‘n duidelike boodskap uitgestuur het dat die regering nie kan stilsit wanneer regeringsamptenare of ander burgers doelbewus privaat eiendomsreg misken nie. Joubert het verder gesê dat die vorige uitspraak van die LUR van Landbou, dat plaasinvalle nie geduld sal word nie, min beteken indien daar nie teen die Munisipale Bestuurder en diegene wat die inval ondersteun het, opgetree gaan word nie.