Kanker stop liefdadigheidswerker se passie
THABAZIMBI – Arlene Deysel (53), ‘n boorling van Thabazimbi, is Maandagoggend na ‘n kort siekbed oorlede.
Arlene het in Thabazimbi skoolgegaan en na voltooiing van standerd agt het sy in Warmbad opleiding as haarkapster ontvang.
Nadat sy gekwalifiseer het, het sy na Thabazimbi terug gekeer en by Salon Edelweiss begin werk.
Arlene het later by die Transvaalse Departement van Natuurbewaring as ontvangsdame gaan werk. Hier het sy verskillende kursusse geloop en haarself as veld- en beroepsjagter bekwaam. Sy het 16 jaar hier gewerk.
Arlene was jare betrokke by verskeie liefdadigheidsorganisasies, en by Thabazimbi Landbouskou. Buiten haar goeie organisasie vermoë, was sy ook ‘n raakvatter.
Sy was ‘n staatmaker wat altyd haar beloftes nagekom het.
Na haar egskeiding het sy haar in Rustenburg gaan vestig.
Sy is ongeveer vyf jaar gelede met Willie Deysel getroud. Willie het Arlene se passie vir liefdadigheid gedeel.
Die egpaar het hier by Matlabas ‘n stukkie grond gekoop en ‘n boskamp opgerig, “Jehovah Shamma”, wat beteken God is hier.
Die Kamp was veral naweke en vakansies vol waar hulle gratis huisvesting vir “stukkende” mense verskaf het.
Willie en Arlene het met berading en hulp van vele ander weer rigting aan hierdie mense gegee.
Die Deysel egpaar het geglo dat God ‘n doel het met elke mens. Danksy hul geloof in God en positiewe uitkyk op die lewe, is baie mense só gehelp.
Lukas 15: “… soek dié wat verlore is en bring hulle terug na My”, was vir haar ‘n roeping.
Gedurende 2003 het Arlene siek geraak. Kanker is in die bekkenbeen gediagnoseer.
Arlene het soveel pyn gehad dat sy selfs ‘n rolstoel gebruik het om oor die weg te kom.
Sy was egter so positief en so vol vertroue, dat God haar heeltemal genees het.
Einde Februarie het haar arm lam geraak en sy het vreeslike hoofpyne gekry. ‘n Breinskandering is gedoen en ‘n gewasse is gediagnoseer.
Twee gewasse is verwyder, maar ‘n derde gewas was te diep tussen die breinlobbe. Sy het bestraling gekry. Arlene wat so trots was op haar bos hare, het net gelag toe alles afgesny is vir die breinoperasie.
Haar hele liggaam het vol melanome uitgeslaan. Ten spyte van die vreeslike pyn, het sy nooit gekla nie, sy het bly glo dat God ‘n doel het met alles.
Arlene is Maandag 9 Mei in Rustenburg hospitaal opgeneem. Om die pyn te verlig, is sy morfien toegedien. Haar toestand het vinnig verswak en sy is Maandag 16 Mei met ‘n glimlag op haar gesig, oorlede.
Sy laat haar man, Willie, twee kinders, Hercules (Chonky) en Colene, ‘n kleinkind en haar ouers, oom Archie en tannie Bertha Niemand, haar broer, Jean, en twee susters, Elesia en Antoinette na.
Die begrafnis was Donderdag om 15:00 vanuit die Rustenburg Christelike Sentrum.