Entertainment

Groot Marico Safari Karnaval

GROOT MARICO – Die jaarlikse Groot Marico Safari karnaval wat weer Saterdag 4 Junie gaan plaasvind, is alom bekend vir sy unieke vermaak wat karnavalgangers jaarliks na die Bosveld laat stroom.
Thys die Bosveldklong en sy vriende, Dusty Dicson en Lourens Beukes sal die jaar sorg vir die musiek en die lagspiere fiks hou. Dusty is juis bekend vir sy nabootsings van sterre soos Steve Hofmeyer, Sonja Herholdt, oorlede Bles Bridges en nog baie ander.
Lourens Beukes se konsertina sal die boeremusiekliefhebbers tevrede hou. Dit is juis hy en die Bosveldklong wat Niki van ‘Sê wie’ op RSG so lekker uitgevang het met ‘Anna van Saldanna’ wat so paar maande gelede vir groot konsternasie in die ateljees by RSG  gesorg het. Die ‘bende’ musikante belowe om die bosveld dié jaar horings te neem.
Na aanleiding van groot belangstelling en navrae wat die afgelope jaar ontvang is, gaan kleiduifskiet ook deel van die vermaak uitmaak en honderde skuts sal kan korrel na die vlieënde pierings. ‘n Haanskop kompetisie (waar manne mekaar van hulle voete af moet ruk met ‘n sterk riem om hulle enkels) sal die jongmanne se balans en krag in hulle bene beproef. Oupa en pa kan weer aan die jongspan wys hoe kleilat gegooi moet word. Dit was juis laas ‘n oupa wat die kompetisie gewen het. Saam met al hierdie pret, is daar boonop pryse wat gewen kan word.
Die organiseerders het egter al geleer dat die geheim van karnaval hou, ook beteken om ma’s die dag te spaar van neulerige kinders wat aan hulle rokspante bly klou. Alles word ingespan om die jongspan die dag hulself flou te speel en alles gaan in die oerwoud-speelpark plaasvind.
Behalwe die swaai en spring toerusting, sal Martiens Nel, ‘n “antieke” boer uit die omgewing, uurliks die kinders wys hoe ons oupas en oumas hulself besig gehou het met speelgoed uit die natuur. Speelgoed wat boonop geen geld kos nie. Hy sal demonstreer hoe alwynkarre gebou is en hoe kleiosse en dolosse die span beeste voorgestel het. Op die koop toe sal ‘n tombola en lekkergoedstalletjie sorg dat pa ‘n paar rand armer is ná die hele affêre.
Die karnaval word gehou op die plaaskerkterrein van die Hervormde Kerk op Groot Marico. Ouers, dit is tyd om jul kroos te neem na hierdie geskiedkundige dorpie en hulle vir die dag te bederf. Vir meer inligting kan Hennie van der Linde gekontak word by 082 896 4707 of Boet Nel by 083 700 9751.