Ellisras Bosveldfees
ELLISRAS – Die Ellisras Bosveldfees gaan vanjaar reeds hul 19de fees te Ellisras (Lephalale) aanbied wat vanaf Woensdag 6 Julie tot Saterdag 9 Julie sal duur. Van vroeg tot laat bied die feesprogram weereens interessante aktiwiteite vir oud en jonk, bles en blond.
Die Brahman, Simmentaler en Limousin beeste skou, dorper- en boerbok vertonings, Wild- en Jagplaas inligting, “Caping” demonstrasies en boonop ‘n boogskiet vertoning en ‘n -kompetisie, gaan weer deel uitmaak van al die feesvieringe.
Daar sal ook ‘n gholfkompetisie aangebied word en die biertuin en kampvure saans, gaan vir lekker kuier en gesels sorg. Die bo-baas mampoerproewers, moet net eers hul 4×4 kompetisie voltooi voor hul dalk die baan heel mis.
Die potjiekos kampioene kan ook kom wys wat in hulle steek tydens die potjiekoskompetisie. Met ‘n pretpark wat die kroos heeldag sal vermaak, het die ouers ‘n rustige tydjie om deur al die stalletjies te stap en al wat mooi is te bewonder. By hierdie stalletjies gaan jy interessanthede raakloop soos rottangware, pottebakkery, bosklere, juwele, skilderye, draadtrekkers, biltongkerwers, enjins en pompe, allerlei meubels en leerprodukte. En boonop kosstalletjies vir elke gril en gier.
Ouers wat hul kinders wil inskryf vir die Baba-, Bulletjie- en Blommetjie kompetisie, kan vir Carmoney kontak by 082 329 2141. Die Mej Bosveld kompetisie word deur Yolande gereël en navrae kan aan haar gerig word by (014) 763 1300. Vir enige ander navrae kan die sekretaresse, Robyn gekontak word by 083 233 5134.