Van A tot Z in loodgietersbenodighede

THABAZIMBI – ‘n Loodgieters besigheid, JJ Plumbing Supplies, het hierdie week in Thabazimbi geopen.
Die besigheid is gerieflik op dieselfde perseel as Koedoeskop Stene. John en Jacques sê hulle het die leemte vir loodgietersbenodighede raakgesien. Jy kan, soos hulle, sê: “Alle loodgietersbenodighede van A tot Z is by ons beskikbaar.”
Buiten water- en rioolpype, T-stukke, krane en seëls is daar alles wat jy vir ‘n badkamer en kombuis nodig het, soos wasbakke, toilette, baddens, storte, badkamerkassies, opwasbakke, seepbakkies en selfs teëls.
Vir die doen-dit-self man, vir daardie klein werkies wat jy nie ‘n loodgieter benodig nie, het hulle ook gereedskap en raad. Jacques, ‘n gekwalifiseerde loodgieter, weet net watter seël vir daardie lekkende kraan of toilet nodig is.
John en Jacques en hulle vrouens, Laurie en Monique, is nou al die afgelope vier jaar inwoners van Thabazimbi.
Hulle nooi almal vriendelik uit om gerus ‘n draai te maak in die industriële gebied. Hulle produkte is alles SABS goedgekeur en hulle belowe baie billike pryse. Indien jy iets spesiaals soek, sal dit binne ‘n dag of twee beskikbaar wees. Groot bestellings sal selfs in Thabazimbi afgelewer word.