Sport

Touchrugby by Bosveldkarnaval

SWARTWATER – ‘n Groot Touchrugby toernooi word vanjaar by die Bosveldkarnaval te Swartwater aangebied. Hierdie groot dag vol opwinding wat waterkaskenades, speletjies, skyfskiet (windbuks as eerste prys), kettieskiet, veiling, hoender- en vark vang, rugby op die grootskerm, osbraai, biertuin en ‘n vertoning van Zak van Niekerk insluit, vind op 25 Junie plaas.
Die spanne moet uit 10 spelers bestaan, waarvan hoogstens vyf te enige tyd op die veld mag wees. Hierdie kompetisie is oop vir alle ouderdomme en daar is geen ouderdomsbeperking nie. Daar sal ook geen onderskeid ten opsigte van geslag wees nie. Die wedstryde sal uit twee helftes van 15 minute elk bestaan. Alle wedstryde sal deur die skeidsregters van die Limpopo Laerskole skeidsregtervereniging geblaas word. Die grootte van die velde waarop gespeel sal word is 30 meter breed en 40 meter lank. Aangesien dit harde bosveldvelde is, word spelers aangeraai om tekkies aan te trek met eenvoudige hemde of rugbytruie. Toks en kaalvoet is uit!
Verblyf is beskikbaar op ‘n Wildsplaas waar die Thabazimbispan sal oornag. Bring jou eie tent, kos en drank.  Inskrywing beloop R100 per span en is betaalbaar by inskrywing. ‘n Maksimum van 32 spanne kan inskryf. Die eerste 32 spanne se inskrywings wat ontvang word, sal kwalifiseer. Skakel Paula Robberts by 082 450 4898 vir enige navrae en inskrywings.