Sport

Swaargewigkampioene op Groot Marico gekroon

GROOT MARICO – Verlede jaar het Voermol in samewerking met die organiseerders van die Groot Marico Safari Karnaval, ‘n kompetisie geloots om die swaarste bees in Suid-Afrika te kroon. Hierdie karnaval, wat op 5 Junie plaasgevind het was ‘n reuse sukses.
Die “olifant-grootte” beeste het van vroeg af op kraal gestaan vir almal om te bewonder. Karnavalgangers kon tussen die krale deurbeweeg om hulle van nader te beskou en selfs foto’s te neem. Vroegmiddag moes die kollosse een vir een die elektroniese skaal in die beesveiling-ring bestyg. Groot afwagting het geheers, want daar was vooraf ook ‘n kompetisie oor wie die swaarste os se gewig reg sou kon raai. ‘n R1000 was op die spel.
Die swaargewigkampioen kom toe uit die krale van mnr Jan le Roux van Vingertrek boerdery op Coligny. ‘n Yslike Simbra os met ‘n gewig van 1340 kilogram.
Plaas- en stadsjapies het nog lank daarna oor dié okkasie gepraat. Soveel so dat die organiseerders besluit het om weer vanjaar so te maak. Die kompetisie sal vanjaar op 4 Junie aangebied word deur die Hervormde Kerk, Groot Marico en sal plaasvind op hul plaaskerkterrein. Die enigste verskil sal wees dat daar vanjaar ook ‘n dames afdeling sal wees. Ja, die swaarste koei afdeling, want baie boere het soms ‘n vroulike dier (dikwels onvrugbaar) wat net swaarder bly word.
Hier is ‘n geleentheid om te sien hoe swaar ‘n vroulike bees kan word. En met nege ton Voermol SB 100 en ander geborgde pryse van beesverwante produkte, is daar net te wen. Inskrywingsgelde beloop R100 en Hennie van der Linde kan by 082 896 4707 gekontak word, of Malcolm Moodie by 083 228 6257.