General

Pendoring veldtog van Stapel gestuur

Afrikaans is Bevonk! Dit is die boodskap wat Pendoring se veldtog vir 2005 by skeppers van Afrikaanse reklame wil tuisbring. In geen ander taal kan jy so lekker skep en dinge so lekker beskryf soos in Afrikaans nie!
Vanjaar se veldtog is op ‘n tender-grondslag gehanteer en nie soos in die verlede waar Pendoring se Prestige-wenner se agentskap outomaties die volgende jaar se veldtog hanteer het nie. Vyf agentskappe het Desember verlede jaar voorleggings gedoen, en hoewel die kwaliteit baie hoog was, is vanjaar se veldtog aan Lobedu Leo Burnett toegeken.
Kopieskrywer, Stefanus Nel en kunshoof, Alan Lewus, het met die konsep en trefreël ‘Afrikaans is Bevonk’ vorendag gekom. “Afrikaans kan dinge so goed beskryf en baie mense wat nie eens Afrikaans-sprekend is nie, gebruik Afrikaanse uitdrukkings,” sê Nel.
“Dit maak Afrikaans soveel meer Suid-Afrikaans en dít is presies wat ons met hierdie veldtog wil beklemtoon.”
Treffende swart en wit foto’s word gebruik om die uitdrukkings uit te beeld. “Die foto’s is baie realisties, amper soos foto-joernalistiek,” sê Nel. “Weereens wil ons wys dat dit regte mense is wat Afrikaans elke dag gebruik om hulself uit te druk.” Een van die reklamebedryf se top fotograwe, Michael Meyersfeldt het die foto’s geneem, Vanessa Pearson was die skeppende hoof en Sanché Frolich was vir die ontwerp verantwoordelik.
Dieselfde swart en wit foto-tema word na die Pendoring 2005 webwerf oorgedra. Die webwerf is uiters oorspronklik en baie effektief en is deur Catriona Campbell en Pedro Pereira van Krew Communications, ‘n spesialis internetmaatskappy, geskep. Die webtuiste (www.pendoring.co.za) sal vandag, 13 Mei lewendig wees.
Na heelwat oorweging is daar besluit om Pendoring se kategorieë vir vanjaar se kompetisie aan te pas: Daar is nou drie studente kategorieë, naamlik Nuwe Media (webwerwe); Veldtogte en Enkeladvertensies. Weens die geweldige groei van die internet is gevoel dat webwerwe ‘n selfstandige kategorie moet wees.
Onderskeid word ook getref tussen Buitelug en Plakkate. Van vanjaar af sal daar ‘n aparte Buitelug-kategorie wees (groot reklameborde) en ‘n Plakkate-kategorie (insluitende bewegende buitelugreklame en straatpaalreklame). Die sluitingsdatum vir inskrywings vir Pendoring 2005 is 30 Junie.