Kommer oor kindertoelae
Die voorsitter van TLU-SA, mnr Dries Joubert het sy kommer uitgespreek oor die implikasies van die Kinder Hulp Toelaag. Hy het gesê dat kinders nie meer as ‘n geskenk gesien word nie, maar ‘n voorwerp wat gebruik word om ‘n inkomste te voorsien.
Joubert het gesê dit is geen wonder dat kindermishandeling, -molestering en -verwaarlosing een van die grootste sosiale probleme in Suid-Afrika is nie – veral in plattelandse gebiede waar armoede hoogty vier. Hy sê wanneer die waarde van ‘n kind verlaag word tot die waarde van ‘n sak meel, sal geen wet in die wêreld so ‘n kind teen mishandeling kan beskerm nie. Joubert sê die boeregemeenskappe is bekommerd oor die vlak van beskerming wat vir plattelandse kinders beskikbaar is.
Hy sê verder dat hierdie toelaag van tieners ‘n “inkomste opwekker” maak. Arm families het min keuse en forseer hul jong dogters om seks te hê sodat ‘n kind verwek kan word. ‘n Kind is R170 per maand werd. Hierdie jong tiener moeders, self nog kinders, sal nie instaat wees om vir hul R170-waarde baba te sorg nie – ‘n prys wat die volgende generasie vir hiérdie verwoestende besluit sal moet betaal. Dit betaal kinders om kinders te hê! Vir ‘n dertienjarige meisie, klink R170 per maand na baie geld.
Ouers kan nie meer hul kinders dissiplineer nie en in sommige gevalle is hierdie jong meisie die enigste bron van inkomste vir ‘n gesin. Joubert sê dit is ondenkbaar wat die gevolge van hierdie regerings beleid gaan inhou.
Sommige van die ouer mense kla dat die jong meisies nie hierdie toelae gebruik om dié kinders te versorg nie, maar dit uitgee op duur klere en grimering. Een ou man het gesê dat die toelaag sy kleindogter in ‘n prostituut verander het en dat die mans hierdie jong meisies misbruik en hulle so min as R10 vir seks betaal.
Joubert sê verder dat die jong meisies skool verlaat sodra hulle swanger raak en nie weer teruggaan om hul skoolopleiding te voltooi nie. Hy het verder sy kommer uitgespreek oor die verspreiding van HIV verwante siektes. Hy sê die kinder toelaag is moontlik met die beste intensies ontwikkel, maar het in ‘n HIV verspreidings masjien verander. Hy het bygevoeg dat hierdie toelaag die beloning van werk vir die jong meisies vervaag.
Hierdie toedrag van sake gaan volgens TLU-SA, Noordelike Streek lei tot groter werkloosheid onder vroue met verdere implikasies van verhoogde huishoudelike geweld. Werkgewers kla reeds dat baie vroulike werkers twee dae per maand afneem om hul toelaag te gaan haal en dit kan bydra tot groter werkloosheid onder hierdie vroue.
Joubert sê dit wil voorkom dat die toelaagsisteem van die regering deel uitmaak van hulle verkiesingsveldtog. Hy sê van die werknemers kla dat “mense by die uitbetalingspunte die begunstigdes meegedeel het dat hul name van die lys verwyder sou word indien hulle nie vir die ANC stem nie”. Hy daag die Nasionale Minister van Sosiale Ontwikkeling uit om teenspraak teen hierdie bewering te lewer.
Joubert sê TLU-SA Noordelike Streek ondersteun alle aksies om armoede te beveg en gesê die enigste gepaste oplossing is dat die ekonomiese bemagtiging almal insluit – nie slegs ANC kamerade nie.