Sport

Gholfnuus

Verlede Saterdag se gholf was geborg deur die plaaslike Duiweklub. Daar het 64 spelers gespeel en 32 pare het pryse gekry. Dit wil gedoen wees. Die wenners wat genoem kan word, was weer ‘n pa en seun kombinasie, Koos en Jaco Prinsloo met 49 punte. Met 48 punte was dit Johan Smit en Steve van der Merwe en Hans Human en Chris Bronkhorst. Jakkie van der Wateren en Piet Venter was ook daar met 46 punte.
Die lede van die Duiweklub was ook almal daar om al die lekker kuierplekke te kon beman. ‘n Woord van dank aan almal wat bygedra het om die dag ‘n sukses te kon maak. Gelukkig het die spelers nie duiwepastei vir aandete gekry nie, maar ‘n lekker braai met Louis se bykosse.
Vier van die klub se lede speel die hele week in Pretoria in die Sages Nasionale Kampioenskappe. Nico van der Westhuizen, Johan Prinsloo en Piet Venter verteenwoordig Waterberg en Pietie Terblanch speel vir Jakaranda.
Daar is enkele van die lede wat gereeld ‘n groot bydrae tot die klub maak. Om net enkeles te noem, Piet en Riaan Vorster het al by verskeie geleenthede materiaal gratis verskaf vir die bou en verbetering van die baan. Daan Lotheringen het reeds twee gras-afdakkies gratis by die kort gate opgerig en sy kettingsaag word ook gereeld gebruik vir die afsaag van takke. Die belangrike woord hier is gratis. Dan is daar weer enkele lede wat altyd kla en fout vind met die baan en wat die komitee doen, maar nooit ‘n fisiese bydra maak nie. Gelukkig is hulle baie min en hulle bydra is ook gratis. Groot dank word ook teenoor al die lede uitgespreek wat op ‘n ander wyse hul deel gedoen het.
Mike Nortje het so pas vir die klub ‘n nuwe braaiplek gebou, iets wat lank reeds ‘n groot behoefte was. Die hele projek was die breingolf van Willem du Plessis. Eddie Williams is druk besig om die oefen setperk te herbou nadat die klub se ander setperke ‘n herstelkuur ondergaan het. Oor ‘n week of drie gaan hulle ook weer puik wees.
Saterdag, 14 Mei is die maandelikse Slagspel. Donderdag, 19 Mei speel die Sages op Koro Creek, dis nou die ou Nylstroom. Saterdag, 21 Mei is dit Liga op Mooinooi. Vrydag, 27 Mei is dit weer Interaksie Gholf. Onthou die boetes wat ophoop. Saterdag, 28 Mei is dit die Kanker Uitdaag kompetisie wat in drie afdelings gespeel word.
Twee belangrike reeks-kompetisies waaraan klub lede asseblief tog moet deelneem, is die Indiwiduele Putjiespel en die Eklektiek.

Science Of Sport – Golf

Great Golf Courses Of Southern Africa

Golf: Greatest Ever Moments