General

Realiteite word werklikheid

THABAZIMBI – Die tegnieke word net al hoe beter en die program neem in gewildheid toe – dit is nou een van die talle realiteitsaanbiedinge tydens die Thabazimbi Expo, naamlik die Ready Steady Bush Cook-out.
Vanjaar was daar twee aanbieders wat die aanbieding meesterlik hanteer het. Hulle was Neil Sandilands wat die wenners van die vorige dag se potjiekoskompetisie, die Dentons, deur hulle stappies gesit het en die ander deelnemers, die span wat die prys vir die beste gees tydens die kompetisie ontvang het, die Voortrekkers, is meesterlik deur William Blackrose ondersteun. Met tye het mens selfs gedink dat die twee meer in kompetisie met mekaar was as wat die spanne teen mekaar gewedywer het.
Net soos verlede jaar was Pick ‘n Pay Thabazimbi die borg wat vir die gaskunstenaar asook die kruideniersware gesorg het en is die kompetisie weereens deur Die Kwêvoël gereël. Die prys van twee selfversorgende chalets vir ‘n naweek het van Dikhololo gekom.
Net soos verlede jaar het nie eens die aanbieders geweet wat in die dose op die deelnemers gewag het nie. Hierdie jaar is hulle onverwags deur ‘n klomp hoenderpote en koedoefillet gevang. Daar was darem ook ‘n pakkie van die nodigste bestanddele om tog iets hiermee aan te vang.
Met Neil en William wat geproe het, is die toeskouers betrek om die finale wenners aan te wys. Dit was toe die span van Dentons wat daarin kon slaag om die koedoefillet sappig gaar te maak en met die prys weg te stap.