General

‘n Groot mylpaal vir Noot vir Noot

Noot vir Noot, SABC2 se immer gewilde musiekprogram, bereik ‘n besondere mylpaal wanneer sy 25ste reeks op Vrydag 6 Mei 2005 om 19:30 in ‘n splinternuwe tydgleuf begin.
SABC2-kykers kan nou uitsien na ‘n propvol Vrydagnag met ‘n uitgebreide uitsending van 7de Laan om 18:30 gevolg deur die Afrikaanse nuus en die nuwe reeks van Noot vir Noot.
Om sy silwer reeks te vier sal Noot vir Noot gasheer speel vir party van Suid-Afrika se gunsteling-sterre. Bekendes soos David Kramer, Heinz Winckler, Poseletso, Dr Victor, Anton Goosen en Helene Bester sal almal vir die eerste keer by programaanbieder Johan Stemmet aansluit in die ateljee.
Noot vir Noot, wat deur Johan Stemmet en Johan van Rensburg geskep is, vermaak kykers reeds sedert 1991 met ‘n ononderbroke twee seisoene per jaar. Johan Stemmet sê: “Ons is baie opgewonde oor die nuwe skedulering. Noot vir Noot pas perfek by ‘n Vrydagaand. Vir die eerste keer in vyftien jaar kan kykers nou in vrede na hul rugby kyk op ‘n Saterdagmiddag!”