Droogte – einde nog lank nie in sig
Die voorsitter van TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert, het gesê TLU-SA Noordstreek is dankbaar dat boere in die provinsie droogtehulp ontvang. Hy het verder gesê dit is werklik jammer dat wildboere totaal van die skema uitgesluit is.
Joubert het kommentaar gelewer nadat die “Droogtehulp Bystand Skema vir Kommersiële Veeboere”, Vrydag, 22 April in Pietersburg bekendgestel is.
Die skema erken dat: “Gedurende 2004/5 reënseisoen het baie areas so min as 10 tot 30 % van normale reënval gehad. Met die abnormale hittegolf gedurende dieselfde tydperk, het die gehalte van weiding en beskikbaarheid daarvan drasties agteruit gegaan tot so ‘n mate dat boere in die areas nie genoeg weiding tot die volgende reënseisoen het nie, en moet hulle vee voer. Die meeste boere het nie die finansiële vermoë om die koste te dra nie.”
Die skema maak voorsiening om boere by te staan om die droogte finansieël te oorleef; bydra tot die onderhoud van ‘n kern teel kudde binne die limiete van natuurlike hulpbronne en bystand op so ‘n wyse verleen dat die korrekte bestuur van natuurlike hulpbronne bevorder word.
Die skema maak voorsiening dat ‘n kern teelkudde gedefinieër word as een derde van die toegelate vee getalle waarmee geboer kan word bereken volgens die langtermyn vermoë van die plaas, maar daar is ‘n beperking. Die staatsbydrae vir boere word beperk tot 30 Grootvee Eenhede vir die kernkudde ongeag die dravermoë van die plaas.
Bystand is beskikbaar vir die volgende items: ‘n rebat op die vervoerkoste van voer; ‘n rebat op tolgelde vir die vervoer van voer en ‘n Provinsiale of Nasionale Regeringsbydrae tot die instandhouding van ‘n kern teelkudde. Betalings is onderhewig aan die beskikbaarheid van staatsfondse. Alle bydrae is gebaseer op Grootvee Eenhede – dus slegs 30 stuks vee.
Mnr Joubert het die Departement geluk gewens met die aanbieding van die vergadering. Hy het sy dank teenoor die departement uitgespreek vir die dokumente wat in Afrikaans en Engels uitgedeel is. Hy was veral beïndruk met die feit dat die dokument ook in digitale formaat beskikbaar gestel is. Joubert het gesê dat die terugvoer van beamptes wel baie tyd gevat het, maar dat waardevolle inligting aan die vergadering oorgedra is. Die vergadering het gehoor dat die hele Limpopo Provinsie, met die uitsondering van die Mutale munisipale gebied, onder die droogte gebuk gaan.
Die argument dat die wildboer die verantwoordelikheid van die Departement van Omgewingsake is, is slegs ‘n skuiwergat wat gebruik word om wildboere by die skema uit te sluit. Wildboere is net soos ander veeboere ook werkskeppers en voedselvoorsieners vir die burgers van ons land. Wildboere het ook ‘n ongelooflike stimulerende effek op die ekonomie as die inkomste aan buitelandse valuta in gedagte gehou word.
Joubert sê dat TLU-SA Noordstreek wel dankbaar is dat daar kennis geneem word van die haglike droogte toestand en dat hulp, hoe min ook al, wel beskikbaar is. Hy het veeboere uitgenooi om alle Distrik kantore van TLU-SA, en hul Streekkantoor, te skakel vir verdere inligting en aansoekvorms. Die kontaknommer is (015) 297 3749.