Koop ‘n kaartjie en help Operation Hunger se selfhelp-skemas
Operation Hunger, een van Suid-Afrika se oudste en mees gerespekteerde
welsynsorganisasies, het deur die jare die lewens van talle hulpbehoewenes wat nie geweet het waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie, dramaties verander.
Die gemeenskap by Jane Furse in die Sekoekoenie-distrik in Limpopo is ‘n sprekende voorbeeld van wat gedoen kan word as mense net die kans gegun word om hulle self te help. Toe Operation Hunger in die vroeë 1980’s ‘n sentrum daar gevestig het, was wanvoeding onder kinders wydverspreid en baie inwoners het saans honger gaan slaap.
Die kaal landskap het landbou op enige skaal bemoeilik, water was baie
skaars en dit was moeilik om by enige winkel uit te kom. Daar was bittermin ekonomiese werksaamhede en mense was so arm dat hulle nie kos sou kon koop nie, al was dit beskikbaar.
Vandag het baie inwoners van Jane Furse werk as landbouers, as kwekers van inheemse bome en rose, as werkers by die plaaslike steenmakery en vele kweek groente vir eie gebruik, sê Operation Hunger se streekskoördineerder, Frans Themba.
“Die heel eerste projek was ‘n sopkombuis om kos in mense se mae te kry en om die ernstige wanvoeding onder kinders aan te spreek,” sê Themba, wat reeds die afgelope 20 jaar aan die sentrum verbonde is.
“Maar die grootste oogmerk was om die gemeenskap te help om op eie bene te staan. Ons het ‘n plaas met ‘n boorgat gehuur en inwoners toegelaat om elk ‘n klein akker grond te bewerk en hulle eie groente te kweek. Daarna het ons ‘n kwekery op die been gebring en werkers in die fyner kunsies van tuinbou opgelei. Vandag is die kwekery ‘n winsgewende onderneming wat talle bestellings vir inheemse bome ontvang.
“Kleinskaalse boerdery, en later grootskaalse boerdery, het gevolg nadat ons boorgate gesink het om besproeiingswater te verskaf. Vars produkte word aan die mark sowel as straatverkopers voorsien. Ons het ook ‘n klein steenmakery begin wat fluks gegroei het onder die bekwame leiding van Solly Malata wat die onderneming die afgelope 15 jaar bestuur. Die onderneming het nou ses werkers in diens en verskaf stene aan die plaaslike mark.
“Mnr Malata het ook pas ‘n vennootskap met ‘n trekkereienaar gesluit om sy vervoerprobleme te oorkom. Hy kan nou sand en sement by plaaslike
verskaffers koop en self aanry. Dit hou broodnodige kapitaal in sirkulasie in die plaaslike gemeenskap.”
Die projek by Jane Furse het nou volle wasdom bereik en wanvoeding is lankal iets van die verlede. Maar baie gemeenskappe in Suid-Afrika het steeds ‘n helpende hand nodig. Operation Hunger maak staat op skenkings van die publiek en private maatskappye en dit is met groot waardering dat die organisasie saamspan met die eiendomsgroep Aida National Franchises om fondse in te samel.
“Aida bied ‘n kompetisie aan waarin die gelukkige wenner ‘n vakansiehuis ter waarde van R1 miljoen in die gewilde vakansiedorp Knysna kan wen. Kaartjies kos R50 stuk en kan by enige Aida-agentskap, Operation Hunger-kantoor en op die City Lodge webblad gekoop word.
“‘n Trekking gaan in die eerste week van Augustus gehou word om die wenner aan te wys terwyl weeklikse kontantpryse en gratis verblyfbewyse ook toegeken gaan word,” sê Themba.