General

Voorlaaier demonstrasie by Expo

THABAZIMBI – ‘n Swartkruit geweer demonstrasie sal Maandag, 2 Mei by die Expo plaasvind. Hierdie demonstasie sal om 11:30 voor die hoof verhoog plaasvind.
Die eerste vuurwapens was lomp en is met behulp van ‘n gloeiende stukkie metaal gevuur wat later ontwikkel het tot die moderne vuurwapen. So moes eers die kruit en daarna die donker busse ontdek word voordat daar met die lomp en onbetroubare wapens gejag kon word.
Gaandeweg het die wapens verbeter tot die lontslotte, muskette en vuurslot pangewere waarmee ons voorouers in die Kaap aan die wal gestap het. Die wapens was lomp en stadig om te laai – veral vir ons gevaarlike wild soos leeu’s. Die wapens was ook onakkuraat en kon ook nie ver skiet nie, en so moes die jagters vele male vlug voor gekweste wild.
Adriaan Stander het in die 1850’s by Marico geboer en sy oudste seun JH vertel hoedat sy pa eendag met net een skoot in sy geweer ‘n bok vir die pot gaan skiet het. Hy het inderdaad ‘n hartbees met die enigste koeël neergevel en die bok op sy perd huistoe geneem. Na aan sy huis het hy egter opgemerk dat ‘n leeu hom bekruip en siende dat daar nie vleis of koeëls tuis was nie wou hy nie dié bok met die leeu deel nie.
Hy skreeu egter aan sy seuns dat hulle vuur moet bring, wat hulle ook toe doen en met die vuur is die leeu verdryf en is die bok veilig tuis besorg. Hulle was nog besig met die afslag toe dieselfde leeu oor die takskerm spring en die bok tussen die mense uitgryp en laat spaander vir die veld. Weer is die leeu agtervolg met vuur stompe en so verdryf dat die dooie bok ‘n tweede maal tuisgekom het.
Bogenoemde geval is net genoem ter illustrasie dat vroeër burgers selfs tuis altyd paraat moes wees en dat kruit en koeëls maar nie volop was nie.
Op ‘n georganiseerde jagtog was dit egter ‘n perd van ‘n ander kleur.
Jan Viljoen en sy makers het op ‘n dag by die Zambeziwaterval ‘n interessante ervaring met ‘n leeu opgedoen. Hulle het ‘n trop leeus, so 12 volwasse diere, dopgehou vanaf ‘n afstand wat hulle gemeen het veilig was. Hulle het egter na ‘n ruk agter gekom dat die leeus ander planne het. Die jagters het begin planne maak, as hulle skiet, mag die leeus vlug, maar aan die diere se houding kan afgelei word dat hulle eerder gaan storm. As die jagters omdraai sou hulle heelwaarskynlik agtervolg word deur die leeus. Die enigste uitweg was toe maar om naby ‘n klompie groot bome te kom wat hulle toe ook gedoen het. Met die dat die jagters gereed was, het hulle elkeen ‘n leeu platgetrek waarop die leeus hulle bestorm het. Nog twee is in die stormloop plat geskiet. Toe Jan en Petrus wou boom klim, het Ockert hulle af gehou, hulle moes eers ‘n plegtige belofte doen dat hulle nooit aan die vrouens sou vertel dat hulle boom geklim het vir leeus nie. Na die belofte is al drie van hulle blitsig die bome in!
Dit is maar net weer ‘n bewys dat die voorlaaier gewere stadig en lomp was om te gebruik en te laai.
Bronne:
Boere en Jagters in ou Marico deur CF Gronum en Die Boer se Roer tot vandag deur Lategan en Potgieter.

Thabazimbi Expo