Thabazimbi wen Swartklip
Jan Engelbrecht
SWARTKLIP – Nat, modderige en sommer onplesierige weer was die voorland vir die rugbyspanne van Thabazimbi en Swartklip toe hulle Vrydagaand op Swartklip se veld teen mekaar te staan gekom het.
Van balhantering was daar nie baie sprake nie, want die bal was soos ‘n koekie seep en het elke keer met kontak uit die spelers se hande gespat. Nogtans het Thaba se eerstespan dit reggekry om goed met die agterlyn te slaan en het die wedstryd met 43 punte teen 7 gewen. Hoewel Swartklip moedig probeer het en met tye Thaba se skrum meters ver teruggestoot het, was hulle net nooit toegelaat om in die wedstryd te kom nie. Thaba se agterlyn het baie spoed en is seker tans die beste in die Waterberg streek. Puntemakers aan Thaba se kant met drieë was Riaan Nel, Riaan Pretorius, James Engelbrecht, Eric Mdyogolo terwyl Nico Du Plessis, Willem van der Nest en Jeremy Fernandes met vier doelskoppe punte met die skopskoen aangeteken het.
Die tweedespan van Thaba gaan hierdie jaar moeilik geklop word, want hulle het die wil om te wen en ‘n hele paar baie ervare spelers wat goed rigting gee aan die span. Hier moet mens die naam uitsonder van Otto Pretorius wat hierdie jaar in enige klub se eerstespan met welslae sal speel en regtig uitblink as planmaker van die tweedes. Eintlik is die hele tweedespan een groot ster. Dit was ook die rede hoekom hulle ‘n moedige span van Swartklip met 27 punte teen nul geklop het.
Op hierdie stadium het Thaba se tweedes reeds 72 punte in die Waterberg liga aangeteken en hulle teenstanders slegs 5 punte. Puntemakers aan Thaba se kant Kobie le Roux, Brian Mali, Cobus Snyman, Piet Engelbrecht, Hannes de Beer en Cobus Snyman.
Hierdie naweek speel Thaba nie rugby nie, maar die rugbyspelers sal oral by die Thabazimbi Expo opgemerk word en veral by die biertent, maar dit is nie om te drink nie. Elke dag van die Expo sal daar ‘n rooibok as prys uitgeloot word. Die trekking sal om 21:00 Vrydag, Saterdag en Maandag by die biertent plaasvind. Ondersteun die spelers deur ‘n kaartjie vir slegs R10 te koop. Vanaf Vrydag tot Maandag word daar ook kaartjies teen R10 stuk verkoop vir die trekking van ‘n Springbok trui wat die 2000 toergroep almal geteken het. Hierdie trekking vind ook Maandag by die biertent plaas. Ondersteun Thaba rugby dit is ons mense wat hier speel en dit is ons mense wat die kaartjies verkoop.