General

Plattelandse veiligheidsopleiding

Die voorsitter van TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert het sy tevredenheid uitgespreek met die mobiliseer Veiligheidskursus wat gedurende die naweek van 15 tot 17 April aangebied was.
Mnr Gideon Meiring, kampleier en inisieerder van die kursusse het dit duidelik gestel dat die opleiding nie deel van ‘n vigilante groepering is nie. Hy het gesê TLU-SA Noordstreek werk baie goed met die SAPD saam, maar dat die SAPD baie probleme ondervind en nie die veiligheid van wetsgehoorsame burgers kan waarborg nie.
Die volgende onderwerpe was onder andere behandel: basiese intruksiemetodes, opleiding in die veilige gebruik van vuurwapens, selfverdediging, huisbeveiligingstelsels en so meer. Die wat die kursus bygewoon het, het gesê dat hulle geweldig baie geleer het en dat die kursus op ‘n professionele manier aangebied was.
Kursusgangers van so ver as Warmbad, Vrystaat en selfs Botswana het die kursus bygewoon. Meiring het gesê dat hulle die belangrikheid van die kursus bewys het en het mense wat nog nie die kursus gedoen het nie, aangemoedig om die volgende kursus by te woon.
Joubert het weer beklemtoon dat mense nie hulle veiligheid mag delegeer nie. Hy het weer mense opgeroep om hulself paraat te maak deur die opleiding by te woon. Hy het gesê dat meeste kommando eenhede reeds gesluit is, die SAPD nie in staat is om die landelike veiligheids funksies oor te neem nie, die nuwe vuurwapenwet ten doel het om wetsgehoorsame burgers te ontwapen en bitter min deur die regering gedoen word om onwettige vuurwapens te vind en te vernietig.
Mense wat belangstel om die volgende kursus, wat tydens die naweek van 17 tot 19 Junie gaan plaasvind, by te woon, kan gerus die TLU-SA Streekkantoor skakel by (015) 297 3749. Joubert het gesê dat vir slegs R300 (kos, akkomodasie en opleiding ingesluit) is die kursus ‘n duidelike bewys van TLU-SA Noordstreek se erns om landelike mense te beskerm omdat die regering nie meer wetsgehoorsame burgers voldoende kan beskerm nie.