General

Magiel ook by Expo

Magiel Steyn, wat Vrydag en Saterdag tydens die Thabazimbi Expo gaan optree, sê dat hy van kleins af die droom gehad het om ‘n sanger te word. Hy tree Vrydag vanaf 14:00 tot 14:30 en Saterdag vanaf 15:30 tot 16:00 by die hoofverhoog op.
Hy het reeds as skolier in die laerskool en hoërskool se koor gesing en was in std 4 een van vier kinders wat uit die streek vir die Wesrand se Kinderkoor gekies is. Gedurende April 2003 het hy aan ‘n sangkompetisie deelgeneem waar hy vir Johan Swart ontmoet het. Johan het hom hoor sing en aan hom ‘n “demo” opname in sy Studio, Johan Swart Produksies, aangebied. In plaas van ‘n “demo” het hulle toe tien liedjies opgeneem, wat ingesluit is op sy album wat hy in by die Pretoria Skou vrygestel het.
Magiel sê dat dit ‘n groot gebeurtenis in sy lewe was toe hy “Hemel op Tafelberg” opgeneem het en Kurt Darren die vrystelling bygewoon het en hom gekomplimenteer het oor die manier waarop hy die liedjie sing. Hy het ook intussen by ‘n Franse Model funksie by ‘n Casino saam met Brandon October van Idols opgetree. By die Pioneers Museum het Magiel ook saam met verskeie ander kunstenaars ‘n voorskou vir Jacques de Coning gedoen.
Magiel sing van tyd tot tyd by verskeie funksies, korporatief en informeel. Hy doen graag gratis optredes vir kinderhuise en minder bevoorregtes, want hy sê dat die sang nie vir hom ‘n beroep is nie en dit gaan ook nie oor die geld nie, maar oor die passie wat hy vir musiek en sang het.
Magiel sê dat hy glo dat mens ‘n talent gekry het wat jy moet gebruik om ander mense plesier en vermaak te verskaf. Hy is tans besig om te werk aan my tweede album wat hy seker vroeg in 2006 sal vrystel. Hy sê dat hy baie daarna uitsien om hierdie nuwe CD in 2006 met elke een wat musiek geniet te deel.

Read more about Thabazimbi Expo