General

Landbou Unie hou by SAPD protokol

Die voorsitter van Soutpansberg DLU, mnr Gideon Meiring, het op ‘n Distrik Landbou Unie vergadering gesê dat die Landbou Unie baie bekommerd is oor die optrede van sommige SAPD lede. Hy het bygevoeg dat hy baie dankbaar is vir die teenwoordigheid van senior lede van die SAPD by die vergadering en het sy hoop uitgespreek dat probleme sinvol opgelos kan word.
Meiring het gesê dat dit verblywend is dat die SAPD wel onderneem om daarby te hou. In die protokol onderneem die SAPD om plaas besoeke binne kantoorure te doen en vooraf ‘n afspraak met die plaas eienaar te maak. Die SAPD het ook onderneem dat nie meer as twee SAPD lede so ‘n besoek sal doen nie. ‘n Lasbrief moet ook oorhandig word voordat ‘n perseel ondersoek mag word of voordat ‘n persoon inhegtenis geneem mag word.
Die uitsonderings word duidelik in die wet beskryf. Hy het gesê dit het dikwels in die verlede gebeur dat plaaseienaar doelbewus Vrydagmiddag laat gearresteer word net om weer Maandagoggend vrygelaat te word sonder dat enige klag gelê is. Hy het gesê die optrede word skynbaar gedoen as intimidasie teen grondeienaars. Meiring het aangedui dat dit in die verlede dikwels gebeur het dat tot 30 SAPD lede op een plaas, na 12:00 in die nag, opdaag. Meiring het duidelik gesê dat die optrede van die SAPD verdag is en dat vermoed word dat ‘bewysstukke’ op so ‘n manier geplant word om die eienaar verdag te maak of dat dit ‘n manier van intimidasie teen grondeienaars is. Hy het ook sy kommer uitgespreek dat misdadigers dikwels van SAPD uniforms gebruik maak tydens plaasaanvalle.
Meiring het ook kommer uitgespreek dat die magte van die SAPD om ‘n wapen oudit te doen, nie misbruik mag word as deel van wat lyk soos ‘n intimidasie veldtog teen grondeienaars nie. Die lede van die SAPD het onderneem dat ‘n SAPD rekenaaruitdruk tydens alle wapen oudit ondersoeke getoon moet word, plus die korrekte identifisering van SAPD lede en dat lede van die SAPD nie sonder meer in die wonings van plaaseienaars mag rondbeweeg nie.
Hy het verder gesê dat TLU-SA Noordstreek by die protokol sal hou ongeag die feit dat die SAPD nie kan waarborg dat alle lede van die SAPD wel by die protokol sal hou nie. Hy het gesê dat hy hoop die SAPD lede wat by die vergadering teenwoordig was, sal TLU-SA Noordstreek se bekommernis verder uitdra.
Meiring het ook aangedui dat die lede van die SAPD wat hulle skuldig maak aan misdrywe, wanbestuur, korrupsie en intimidasie, blykbaar net ‘verplaas’ word, maar nie uit die SAPD verwyder word nie. Dit skep ‘n groot probleem omdat sulke SAPD lede eenvoudig voortgaan met hulle dade wetende dat hulle ‘beskerm’ sal word.
Verbreking van die protokol deur sommige SAPD lede, gebruik van SAPD uniforms gedurende plaasaanvalle, swak dissiplinêre stelsel in die SAPD en optrede wat grens aan intimidasie, maak dit baie moeilik vir TLU-SA Noordstreek om die SAPD te vertrou.
Meiring het gesê dat die optrede van die SAPD wetsgehoorsame burgers kwesbaar laat en alle lede van TLU-SA Noordstreek gevra om dadelik met TLU-SA te skakel indien probleme weer voorkom. Hy het ook plaaseienaars wat nie aan TLU-SA behoort nie, aangemoedig om met TLU-SA te skakel vir inligting en praktiese raad.
Hy het bygevoeg dat die SAPD so moet optree dat elke inwoner van die land veilig voel. Verder het hy het sy hoop uitgespreek dat gereelde gesprekke met die SAPD uitstaande probleme sal oplos. Hy het die lede van die SAPD bedank vir hulle moeite om die vergadering by te woon en hoop dat hulle dit weer in die toekoms so sal doen.