General

Jagvooruitsigte vir 2005

Dr JH Cameron

Teen alle verwagtings het dit vanjaar beter gereën. Voorspellers het ‘n swakker jaar voorspel. Die Landbouweekblad het verlede jaar ‘n interessante artikel oor die vlekke op die son en die invloed daarvan op ons reënval gehad.
Volgens dié siklus sou ons vanjaar die draaipunt van die dalende reënvalsyfers beleef met vanjaar as moontlik die swakste reënjaar in die afgelope sewe jaar. Voorspellers was ook pessimisties oor die reënval vir vanjaar, en niemand het so ‘n mooi bees- en wildjaar verwag nie.
Koedoesrant, Soutpansberg, Messina, Vaalwater en Swartwater is plekke wat vanjaar baie wild het en die veld en die wild is mooi. Die koedoes in daardie wêreld is vanjaar donkerder van kleur en groot. Thabazimbi se sekelbosse maak dele van  hierdie buitengewone jaggebied moeilik. Dit het egter ook daar goed gereën. Die wild is volop en die boere het moeite gedoen om fasiliteite op te knap.
Die Noordwes lyk ook goed. Verslae wat ek van jagvriende kry, is positief. Die gemsbokke, springbokke, elande en hartbeeste is in ‘n goeie kondisie en het goed aangeteel.
Dit het vanjaar verrassend baie gedurende Desember, Januarie en Februarie op die Hoëveld gereën. Swartwildebeeste, blesbokke, springbokke en elande wat ek op plase in die omgewing van Potchefstroom en Fochville gesien het, lok ‘n man uit. Hulle is in ‘n buitengewone goeie kondisie… blink en vet en groot.
Vir die jagter bemoeilik die geweerwette sy jagsake: Pa se seun kan nou nie meer met sy pa se geweer gaan jag nie. Die wet bepaal dat hy onder toesig van sy pa skiet. Om ‘n lisensie op jou naam te kry, duur ‘n ewigheid. Ek is bewus van manne wat al in September 2004 dokumentasie by die polisie vir verwerking ingegee het. Tot op datum – ses maande later – het daar nog niks gerealiseer nie.
Geweerhandelaars verkoop gewere tans teen so ‘n slakkepas dat daar nie sprake is van nuwe gewere vir ‘n beplande jag nie as gevolg van hierdie trae verwerking van aansoeke. Verder veroorsaak die wetgewing probleme vir oorsese besoekers. Die lomp en onhandige manier waarop jagters by die Johannesburglughawe hanteer is, het wye reperkussies gehad. Professionele mense wat van die jag afhanklik is, ly groot skade: Jagters gaan eerder na Namibië, Zambië en Tanzanië.
Phasa (Professional Hunters Association of South Africa) het baie moeite gedoen om sake soos die ontvangs van besoekers en die beeld van Suid-Afrika in die buiteland te verbeter. En dinge hét verbeter.
Daar word egter vandag jagtogte deur jagters van oorsee beplan, met Suid-Afrika nie hoof op hulle lys nie. Ons vertrou maar dat die betrokke ministers sal poog om die jagtoerisme vriendelik, vinniger en meer professioneel by aankoms en vertrek deur amptenare te laat hanteer.
Maar nou ‘n plaaslike probleem: Wildplase word meer, daar word groter getalle jagters verwag, die wild teel goed aan en is volop. Die pryse word egter vir die gemiddelde salarisman ‘n probleem. Hulle kla: ‘n Rooibok kos enigiets van R600 to R800, ‘n blesbok kos R750 en meer. Dan moet daar ook nog ‘n dagfooi bygereken word. Tel dit by en jou rooibok kos jou nader aan R1000.
Die manne kla dat 40 kilogram vleis (gemiddelde gewig van ramme in Thabazimbi) moeilik in hulle begroting pas. Dit is slegs die meer gegoede ouens wat lekker kan jag. Die probleem vir die wildboer is dat hierdie mense in die minderheid is en dat die boere nie die wild wat hulle moet oes, verkoop kry nie. Vraag en aanbod begin beslis nuwe strukture op boere afdwing. Feit bly staan dat die boer sy onderneming ekonomies moet ontwikkel of ons jag binne afsienbare tyd al minder.
En vir ons wat jag omdat daar ander dryfvere is wat ons jaarliks, soms kere sonder tal – laat gaan, stem ek saam met Robert F Jones in “Dancers in the sky – Each time we go afield, we are baptized anew in the fellowship of the natural world… Each time we kill a bird (an animal) we die a little ourselves, and in that death renew our love for what we have killed. Each time we kill, we pledge our eternal troth to it, as at a wedding altar. Each time we kill, we anoint it with the oil of our compassion. And each time we partake of the flesh of what we have killed, we become one with their essence. Hunting is incomplete without death. That’s why it can never be a mere gallery game.”
Boere ons kom!
Bron: SA Koöp.