Grondbelasting op landbougrond
Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU-SA Noordstreek, het gesê dat hy nie verbaas is oor die aankondiging van die Minister van Plaaslike Owerheid in verband met grondbelasting op landbougrond nie.
Joubert sê dat TLU-SA Noordstreek reeds lankal voorspel het dat die ANC grondbelasting op landbougrond gaan hef. Hy het gesê dit vorm deel van die ANC strategie om wit kommersiële boere so te belas dat boerdery bedrywighede nie langer ekonomies volgehou kan word nie en dat belasting of landbougrond deel vorm van die ANC se grond herverdeling program. Joubert het gesê dat dit ou nuus is dat die ANC wette baseer op rasse diskriminasie en nie op ekonomiese volhoubare impak studies nie.
Die Minister van Plaaslike Owerheid se aankondiging dat grondbelasting op landbougrond vanaf 1 Julie gehef kan word, het vir plaaslike owerhede ‘n nuwe potensiële bron van inkomste verseker. Joubert het gesê dat daar genoeg fondse vir plaaslike owerhede beskikbaar is, maar dat onbekwame polities aangestelde amptenare en geldgierige korrupte politici alle beskikbare fondse gulsig opslurp.
Die uitbreiding van die belastingsbasis vir plaaslike owerhede word deur TLU SA steeds verbind aan “betaling vir dienste gelewer”. Die plaaslike owerhede het egter die saak omgedraai en sê daar word betaal vir potensiële dienste wat deur almal gebruik kan word. Die besluit is ook nie nuut nie, want die ANC stel nie belang in die finansiële volhoubaarheid van lede van die Wit Afrikaanse Mederheid nie. Die wet is slegs nog een van die magdom rasgebaseerde wette wat die apartheid regering se wette na ‘n Sondagskool piekniek laat lyk.
Die saak word nou verder ondersoek en plaaslike forums of gemeenskapsrade of belastingbetalersverenigings word gebruik om die saak van “betaling vir dienste gelewer” op die sakelys te kry en te sorg dat die plaaslike owerheid die vermoë het om die dienste te lewer en die dienste instand te hou.
Joubert het lede van TLU-SA Noordstreek versoek om seker te maak dat al die bepalings van die wet deeglik bestudeer moet word om te voorkom dat plaaslike owerhede die wet verkeerd implementeer. Hy het ook gesê dit is belangrik dat elke munisipaliteit se beleid, en dat die nodige plaaslike regulasies en verordeninge in plek is voordat die belasting betaalbaar is.