General

Administrasie dag ‘n reuse sukses

‘n Uiters suksesvolle Administasiedag is op 12 April deur TLU-SA hoofkantoor aangebied en volgens mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noordstreek het die administratiewe personeel van die streek baie baat by die dag gevind.
Hy het voorts gesê dat die Noordstreek die gereelde aanbieding van die dag ten volle ondersteun. Hy het gesê dat die bemagtiging van administratiewe personeel belangrik is, aangesien hulle die onderbou en ruggraat van die TLU-SA vorm en daarom belangrik is om die personeel voortdurend op te lei.
Joubert het gesê dit is nou meer as ooit tevore belangrik dat administratiewe personeel van verskillende streke mekaar ondersteun en van mekaar leer. ‘n Volledige handleiding en adreslys is aan diegene wat teenwoordig was voorsien en sal kopieë daarvan (waaraan verbeterings ook reeds aangebring is) by die Algemene Raadsvergadering van 9 Junie beskikbaar wees.
Daar word nou reeds voorstelle ontvang ten opsigte van volgende jaar se aanbieding en kan enige idees met die kantoor geklankbord word.
Almal wat die opleiding bygewoon het was dit eens dat die aanbieding die beste in jare was en dat almal baie na volgende jaar se opleiding uitsien. Die praktiese demonstrasie in verband met kommunikasie het die deelnemers vasgenael laat sit, en almal laat besef hoe noodsaaklik goeie kommunikasie is.