Bela-Bela Toerismefees – ‘n kookpot vol pret
Bela-Bela (ongeveer 120 km noord van Pretoria) en voorheen bekend as Warmbad beteken nie verniet: “Plek wat kook” nie.
Bela is die Sotho-woord vir kook en verwys na die natuurlike warmwaterbron wat van hierdie dorp in die Waterberge die mees gewilde vakansiedorp in Limpopo maak.
Die dorp bied jaarliks ‘n toerismefees aan wat aan besoekers die mooi omgewing en produkte in die dorp en omgewing ten toon stel. Die fees vind hierdie jaar plaas van 26 tot 29 Mei 2005 en beloof om ‘n kookpot vol pret en aktiwiteite te wees.
Die fees word aangebied op ‘n sentrale terrein op die dorp. Op die feesterrein kan besoekers rondloop tussen ‘n verskeidenheid stalletjies en by Vriende van die Bosveld se tent kan daar geproe word aan heerlike wildsgeregte en onder andere “eksotiese” disse soos krokodil op die spit.
Diegene wat die Bosveld letterlik wil proe, kan deelneem aan die koedoedrolspoegkompetisie wat jaarliks vir groot opwinding sorg. Met ‘n Bosveld mampoer of twee agter die blad, spog die manne en vroue nogal met spoegafstande wat grens aan wêreldformaat (as daar op enige ander plek of fees ter wêreld so kompetisie aangebied word).
Bekende kunstenaars soos Alvin Bruinders, Thys die Bosveldklong, Robbie Wessels en die immergewilde Eden gaan besoekers deur die loop van die fees vermaak. Op Vrydagaand, 27 Mei, word daar egte’n Duitse aand met ‘n oempa-orkes in die biertent aangebied.
Vir die aktiewe mense is daar ‘n fietswdren wat van ‘n pretrit tot ‘n kompeterende langafstand vir die meer professionele ryers insluit. Groot prysgeld is op die spel. Daar word ook ‘n mini-marathon oor 21 km aangebied. Die marathon en die wedren vind plaas op Saterdagoggend, 28 Mei.
Vir meer inligting oor die fees, of vir bespreking van akkommodasie of stalletjies of vir meer besonderhede oor die wedren en marathon skakel die fees se info-lyn by tel. (014) 736-3694.