General

Neil Sandilands – Die man op die Expo verhoog

Neil Sandilands, by baie meer bekend as Bart Kruger, Deli-eienaar van 7de Laan, is vanjaar die seremoniemeester op die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo verhoog.
Alhoewel hy eers werklik bekendheid deur die sepie gekry het, is hy ‘n man van vele talente en is toneelspeel in sy bloed. Hy het hierdie merkwaardige talent van hom reeds op laerskool laat geld in verskeie operettes, revues en drama kompetisies. Sy nabootsing van David Kramer was veral ‘n treffer by die gehoor. Op veertienjarige ouderdom het hy reeds sy eerste TV rol gehad in “Meesters” en as tiener was hy baie gesog en sy volgende rol was in “Konings”. Hy was ook aanbieder op ‘n opvoedkundige program van M-Net.
Terwyl hy besig was met sy graad in kommunikasiekunde aan RAU, het hy die kampus op horings geneem met sy eie produksies en optredes. Dit terwyl die Universiteit nog nie eens oor hulle eie Kuns en Drama departement beskik het nie.
Die rolprentwêreld het hom gou gelok en was hy te sien in die titelrol van “Red Meat”. Hierna het hy sy eie kort film, “Entre Nous” vervaardig. Dit is gevolg deur ‘n rol in “Soutmansland” en op die verhoog in “Things you shouldn’t say past midnight”.
Dit was ook in 2000 dat hy die rol in 7de Laan aanvaar het. In 2002 het hy die rol van Guy in “My night with Reg” meesterlik vertolk. Hy het ook die internasionale vlak betree met sy roerende en emosionele vertolking van Rijkhaardt Jacobs in “Proteus”. ‘n redelike kontroversiële kunsfliek. Hierby is hy ook nog betrokke by produksies tydens die KKNK.
Neil is ook in 2004 en 2005 genomineer vir Beste Suid-Afrikaanse Akteur vir die gesogte People Crystal Award. Sy aanpasbaarheid by die rolle wat hy vertolk maak van Neil beslis een van die beste akteurs in Suid-Afrika.
Moet hom nie misloop waar hy ook vanjaar as erebeoordelaar Saterdag 30 April tydens die Expo Wildspotjiekoskompetisie gaan optree nie. Hy gaan ook vir William Blackrose bystaan met die aanbieding van die “Ready Steady Bush Cook-out” wat Sondag 1 Mei vanaf 12:30 by die hoofverhoog aangebied gaan word. Moet dit nie misloop nie.

Read more about Thabazimbi Expo