40-Jarige hoërskool reünie
THABAZIMBI – Die matrieks van 1964 van Hoërskool Frikkie Meyer, reël ‘n 40-jarige reünie by dié skool se lapa op die skool se terrein. Die meeste van die oud-leerlinge het mekaar laas gesien en gegroet net na die laaste matriekvraestel geskryf is einde 1964.
Na 40 jaar kan ‘n mens verwag dat baie van hulle mekaar nie eers meer sal herken nie. Party mense kom van so ver as Natal en die Kaap. Die meeste van die mense wat van ver af kom gaan in die koshuis slaap. Die okasie begin al Vrydagaand, 29 April in die koshuis. Saterdagoggend, 30 April, is daar “brunch” om 10:00. Die groot okasie is Saterdagaand in die lapa by die swembad op die skool terrein. Sondagoggend, 1 Mei, na ontbyt gaan party van die mense begin vertrek. Ander het klaar gereël vir slaapplek in die koshuis vir Sondagaand en vertrek eers Maandagoggend terug huis toe.
Die hele naweek gaan die ou vriende van vooraf kennis maak, metgeselle voorstel en lewensverhale uitruil. Tot dusver het 40 van die 52 matrikulante plek bespreek vir die reünie. Twee van dié matrieks is reeds oorlede naamlik Chris (Spekkies) Erasmus en Roy Robinson. Daar is egter nog vyf wat glad nie opgespoor kan word nie.
Die mense wat gesoek word is Gerrie (Perdeby) Cronje, Breggie Engelbrecht, Alet Kristen, Coenie Lottering en Louwtjie Oberholzer. Indien enigiemand kan help met kontakbesonderhede, kan Danie Minnaar gekontak word by 083 417 7236 of Herman Venter by 072 450 0645.