General

Wilddiewe op heterdaad betrap

THABAZIMBI – Wilddiewe wat verlede naweek wild ter waarde van R42 000 geskiet het, is op heterdaad betrap deur ‘n professionele jagter van Ferroland. Die vermeende wilddiewe het Saterdag, helder oor dag, op die plaas Buffelshoek by Ferroland geskiet.
Mnr Werner Taljaard, voorman van Ferroland, het die verdagte bakkie opgemerk en hulle probeer inhaal. Hy het die polisie en helpers op die plaas gekontak vir bystand. Die area is afgekordon deur speurders, Modimolle Veediefstaleenheid en helpers waarna ‘n verdagte by ‘n dubbelkajuit Nissan Hardbody met GP nommerplate, vasgetrek is. Drie ander verdagtes het te voet op die vlug geslaan.
Die speurders het beslag gelê op die bakkie, haar- en bloedmonsters sowel as patroondoppies wat as bewysstukke ingedien is. Ses karkasse ter waarde van R30 000 is ook teruggevind.
Maandag is ‘n tweede verdagte gearresteer en daar is beslag gelê op ‘n .308 kaliber geweer. Die verdagtes moet weer op 18 April in die hof verskyn en een verdagte bly in aanhouding. Na wat verneem word is die polisie warm op die spoor van die ander twee verdagtes en sal arrestasies binnekort volg.
Veediewe het ook die naweek van 1 en 2 April by bogenoemde plaas geskiet en die polisie sê die moontlikheid is nie uitgesluit dat die twee sake met mekaar verbind kan word nie.