Entertainment

RiVo toneelgroep vol aksie

THABAZIMBI – Die RiVo toneelgroep is vol aksie met 18 “akteurskorps” in die span. ‘n Paar lede is dié jaar bietjie rustend as gevolg van studies, werksomstandighede ensovoorts. Die nuwe lede het sommer vinnig ingeskakel en die gees is reg.
Die groep is ernstig aan die oefen met twee stukke, ‘n eenbedryf en ‘n vollengte stuk vir onderskeidelik die Landbouskou en die 75 jarige herdenking van die ATKV. Die komiese eenbedryf, “Skoukoors”, sal op 4 Augustus met die kroningsgeleentheid bietjie humor verskaf.
Die skreeusnaakse klug, “Piet se Tante”, is ‘n verhoogverwerking deur Nico Luies, Hoof van die Dramadepartement van Kovsies, van die ou filmweergawe met onder andere Al Debbo en Frederick Burgers. Moenie dit misloop nie.
Met die rolinkleding gedoen, wag daar nou harde werk, maar almal sien baie uit daarna. Voorlopige datums vir optredes is 28 Oktober – ATKV funksie, Thabazimbi en 12 November – Pierneefteater, Pretoria.