General

‘n Breë oorsig oor jag en jagpetaljes van weleer

JP van der Merwe

Kom ons kyk kortliks na die ontstaan van swart kruid of buskruit. Niemand weet werklik waar en hoe die plofmiddel ontstaan het nie, wat ons wel weet is dat tydens die beleg van Konstantinopel (669 – 676 n.c) van seevuur gebruik gemaak is wat dieselfde bestanddele as buskruit het. Markus die Griek het reeds die resep daarvoor in sy vuurboek, Liber ignium ad Comburendos hostes ongeveer 230 n.c opgetrek. Dit is eers ongeveer die 13de eeu dat ontdek is dat kruit ingespan kan word om ‘n projektiel aan te dryf. Dit is ook dan hiervandaan wat die vuurwapen ontwikkel het.
Die eerste wapens was lomp en is met behulp van ‘n gloeinde stukkie metaal gevuur, hulle het egter ontwikkel tot moderne vuurwapens. So moes eers die kruit en daarna die donker busse ontdek word voordat daar met die lomp en onbetroubare wapens gejag kon word.
Gaandeweg het die wapens verbeter tot die lontslotte, muskette en vuurslot pangewere waarmee ons voorouers in die Kaap aan wal getoon het.
Die wapens was lomp en te stadig om te laai vir ons gevaarlike wild soos leeu’s en vele ander. Die wapens was onakkuraat en kon ook nie ver skiet nie, en so moes die jagters vele male vlug voor gekweste wild.
Jagtogte na die binneland het baie maande geduur en daar was ook nie paaie of winkels waar die jagters kon aandoen om voorrade aan te vul nie. Alles plus nog eksta moes dus saam met die jagters op hulle ossewaens vervoer word, wat ons dan ook by ‘n paar petaljes bring.
Adriaan Stander het in die 1850’s by Marico geboer en sy oudste seun JH vertel hoe dat sy pa eendag te perd met net een skoot in sy geweer, ‘n bok vir die pot gaan skiet het. Hy het inderdaad ‘n hartbees met die enigste koe‰l neergevel en die bok op sy perd huis toe geneem. Na aan sy huis het hy egter opgemerk dat ‘n leeu hom bekruip en siende dat daar nie vleis of koe‰ls tuis was nie wou hy nie die bok met die leeu deel nie. Hy skreeu egter aan sy seuns dat hulle vuur moet bring, wat hulle ook toe doen, en met die vuur is die leeu verdryf en die bok veilig tuis besorg. Hulle was nog besig met die afslag toe dieselfde leeu oor die takskerm spring, en die bok tussen die mense uitgryp en laat spaander vir veld. Weer is die leeu agtervolg met vuur stompe en so verdryf dat die dooie bok ‘n tweede maal tuisgekom het.
Dieselfde Adriaan het ook eendag ‘n groot buffelbul gekwes en moes dadelik na die skoot die aarde aanneem. Hy gryp na ‘n oorhangende tak, maar die buffel was reeds op hom en gooi hom gelukkig in die boom se mik waar hy veilig was. Die buffel het onder die boom bly blaas en snork, en is later deur Andries Welmans daar onder die boom doodgeskiet.
Bogenoemde gevalle is net genoem ter illustrasie dat vroe‰r burgers selfs tuis altyd paraat moes wees, en dat kruit en koe‰ls maar nie volop was nie, op ‘n georganiseerde jagtog was dit egter ‘n perd van ‘n ander kleur.
Voorbereidings vir so ‘n jagtog het maande lank geduur. Onthou daar was nie vulstasies, kafee’s en so meer langs die pad nie. Buiten die kos wat die vrouens op die pad moes voorberei, moes hulle nog vir klere en medisynes en ‘n magdom ander goed wat net ‘n vrou aan kan dink, voorberei vir die gesin se verblyf van ‘n jaar. Die mans moes omsien dat die waens, bande, gewere en ammunisie reg is en dat daar ‘n koei met ‘n klein kalfie is wat melk moes voorsien op die tog, plus nog sovele ander take wat ons moderne mense nie aan kan dink nie.
Net vir die interessantheid daarvan:
Leeuvelle is vir twee tot vier-en-twintig pond verkoop. In die jagvelde was daar ook maar telke male petaljes met die wild. Ek haal slegs ‘n enkele aan:
Jan Viljoen en sy makkers het op ‘n dag by die Zambezi waterval ‘n interessante ervaring met leeus opgedoen. Hulle het ‘n trop leeus, so 12 volwasse diere, dopgehou wat hulle gemeen het veilig was. Hulle het egter na ‘n ruk agter gekom dat die leeus ander planne het. De jagters het begin planne maak, as hulle skiet mag die leeus vlug, maar aan die diere se houding kon afgelei word dat hulle eerder gaan storm. As die jagters omdraai sou hulle heel waarskynlik agtervolg word deur die leeus. Die enigste uitweg was toe maar om naby ‘n klompie groot bome te kom, wat hulle toe ook gedoen het. Met die dat die jagters gereed was, het hulle elkeen ‘n leeu plat getrek waarop die leeus hulle bestorm het, nog twee is in die stormloop plat geskiet. Toe Jan en Petrus wou boom klim het Ockert hulle af gehou, hulle moes eers ‘n plegtige belofte maak dat hulle nooit aan die vrouens sou vertel dat hulle boom geklim het vir leeus nie. Na die belofte is al drie van hulle blitsig die bome in!
Dit is maar net weer ‘n bewys dat die voorlaaier gewere stadig en te lomp was om te gebruik en te laai.
Bronne: Boere en Jagters in ou Marico deur CF Gronum en Die Boer se Roer tot vandag deur Lategan en Potgieter.