Kunstefeeste is nie liefdadigheidsorganisasies nie

Die Amerikaanse rock-legende, Frank Zappa het gesê: “Kuns is iets wat jy skep uit niks en dit dan verkoop.” Dit sê iets van die ekonomiese markkragte waaraan ook die kunste soos alle ander samelewingsprodukte onderworpe is. Kunstefeeste is nie liefdadigheidsorganisasies nie. Hulle is besighede wat op gesonde ekonomiese beginsels bestuur moet word. Dis van te veel liefdadigheid en bakhand-bedelaarsindroom dat die kunste in Suid-Afrika so swaar gekry het in die beginjare van die nuwe Suid-Afrika toe die meeste staatsubsidies en kunsterade opgedroog het.
“Hierdie ekonomiese markkragte het ‘n besliste invloed op die bekostigbaarheid en toeganklikheid van die fees vir almal en dis ‘n realiteit wat bestuur moet word. Dis maklik om na die KKNK te verwys en te sê “terwyl sy binneruim – waar die kuns, kultuur en samehorigheid gebeur – nog witterig  deurskyn”, maar is dit nie dalk ook ‘n kwessie van mense wat die geld het en wat ook bereid is om te spandeer op ‘n spesifieke kuns- en kultuurervaring nie?”, het mnr Chris de Bruyn bestuurder van die Instituut vir Kunstebestuur en ontwikkeling by die PUK-kampus van Noordwes-Universiteit gesê.
Dit is ‘n eensydige stelling om te maak deur te sê dat die samehorigheid net “daarbinne” ervaar word. Op elke straathoek, in elke kosstalletjie, biertent of by elke gratis verhoog is daar net soveel, indien nie meer samehorigheid ervaar tussen mense as “daarbinne” nie. By veral byvoorbeeld die ATKV-verhoog by die KKNK is mense van alle rasse in groot getalle saam meegevoer deur die kunste-ervaring wat hulle daar kon beleef.
Ek dink nie dis heeltemaal reg om die KKNK te omskryf as ‘n “verhaal van twee kunstefeeste nie.” Dit is eerder ‘n glashelder weerspieëling van die toeskouerpubliek se profiel, van hulle vermoëns en van hulle huidige behoeftes binne die kunste soos beleef en ervaar deur almal.
Die bogenoemde ekonomiese markkragte verskoon natuurlik nie die feesbesture van hulle verantwoordelikheid om die kunste te laat gedy, op te voed, gehore te ontwikkel en om die feeste meer toeganklik te maak vir die breër deursnit van die samelewing nie.
Dit kan bereik word deur opleiding en bemagtiging van mense op grondvlak.  En dit is hier waar die Instituut vir Kunstebestuur en ontwikkeling van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus reeds saam met die feesbesture van KKNK en Aardklop ‘n praktiese en sigbare bydrae op grondvlak lewer. Tydens die fees is daar ook ‘n kursus in Kuns- en Kultuurbestuur op gemeenskapsvlak aangebied wat deur 18 mense uit die plaaslike omgewing bygewoon is. Dit is reeds die 2de keer dat hierdie kursus op Oudtshoorn aangebied is en dit het ook reeds vier keer tydens Aardklop plaasgevind. Die ATKV het die afgelope jare al hierdie kursusse geborg.
Die doel van hierdie kursus is om mense uit die plaaslike omgewing op te lei en te bemagtig om hulle eie kunste-omgewing beter te kan bestuur. Tydens hierdie 3-dagkursus is die kursusgangers opgelei in soveel moontlike fasette van kunstebestuur. Dit sluit onder andere in projekbestuur in die kunste, bemarking, finansiële bestuur, etiek in die kunste, besigheidsgereedskap van die kunste, fondswerwing en strategiese beplanning in die kunste.
Hulle het geleer hoe om vergaderings te hou, hoe om uitdagings op grondvlak soos vervoer, befondsing en gemeenskapsbetrokkenheid te hanteer en hoe om ‘n projek te beplan en te bestuur.
“Agtien mense is gemotiveerd terug na hulle gemeenskappe, elkeen met ‘n universiteitsertifikaat in die hand en met nuwe ywer en kennisgereedskap oor die bestuur van die kunste. Hulle is die mense wat gaan help om onder andere die uitdagings en die verantwoordelikhede wat feesbesture het in die toekoms die hoof te bied.  Hulle gaan ‘n bydrae lewer dat ons in die toekoms nie meer van “blank”, “spierwit” of “witterige” feeste gaan praat nie, maar van feeste wat so vry moontlik van die politiek funksioneer en wat ‘n nog meer gebalanseerde prentjie van die kunstepubliek sal weerspieël, het de Bruyn gesê. Vir meer inligting kontak Chris de Bruyn by (018) 299 2850.