Jukskei lewer Springbok op uit Thabazimbi

THABAZIMBI – In ‘n vorige berig van die SA Kampioenskappe te Kroonstad vanaf 26 Maart tot 1 April, was daar berig dat Pop (Gerda) Grobbelaar gekies is vir die Presidentspan, maar intussen was daar ‘n ontrekking uit die SA Vroue veteranespan en die keurders het Pop aangewys vir die SA Span.
Grobbelaar sal as Springbok die toer in Mei meemaak na Namibië. In die Noordelike Provinsie is sy dan ook die jongste Springbok in die senior afdeling. Pop het verskeie kere die Presidentspan verteenwoordig by die Meesters toernooi, waar sy haar staal gewys het.
Haar deursettings vermoeë het gesorg dat sy beloon word met ‘n Springbok baadjie waarop sy baie trots is. Die Noordelike Jukskei unie wens Pop geluk met haar uitsonderlike prestasie.