General

Hulp met vuurwapenlisensiëring

“Agri SA lede kan deur 0861 306 306 te skakel nou professionele advies ontvang met die proses om hulle vuurwapenlisensies te hernu of om aansoek te doen vir ‘n nuwe vuurwapenlisensie.
Deur die inbelsentrum in kantoor ure te skakel kan die lid advies kry oor die Wet en die vuurwapenlisensiëringsproses en hy sal ook verwys kan word na die naaste geakkrediteerde opleidings- en assesseringsentrum aan hom waar hy ‘n standaardtarief sal betaal,” sê Kieweit Ferreira, Voorsitter van Agri SA se Wet- en Ordekomitee.
“Die inwerkingstelling van die nuwe Wet op die Beheer van Vuurwapens het onsekerheid by talle vuurwapeneienaars tot gevolg gehad. Die Wet hou ook verreikende gevolge in vir elke persoon wat reeds in besit is van ‘n vuurwapen en die persoon wat in die toekoms ‘n nuwe vuurwapen wil aanskaf.
Om dit vir ons lede makliker te maak het Agri SA ‘n ooreenkoms met Waters Firearms Competency Assessment and Training Centre (FCATC) aangegaan om professionele advies en opleiding aan lede landswyd te bied,” sê Ferreira.
FCATC is by Poslec Seta, SAPD en SABS geakkrediteer om die opleiding deur landwye netwerk van sentrums aan lede te verskaf. Daar word van meer as 100 sentrums, wat tans uitgebrei word, landswyd gebruik gemaak om die diens aan lede te verskaf teen ‘n standaardprys wat goedkoper is as heersende markpryse.
Al die sentrums is geakkrediteerde sentrums en moet aan FCATC se standaard voldoen om by die netwerk ingesluit te word. Die volgende opleiding is by die sentrums vir lede beskikbaar: Volle opleiding en assessering, dit is vir persone met geen vooraf opleiding of ondervinding in vuurwapens; opleiding aan persone met vorige informele opleiding, dit is ‘n verkorte proses wat erkenning gee aan vorige opleiding en ondervinding en hernuwingstoets, in die geval moet die individu kennis van die vuurwapenwet demonstreer en ‘n teoretiese toets aflê.
Daar het pas ‘n reeks werk- en handboeke verskyn, wat ‘n selfhelp studieprogram insluit en alle aspekte van vuurwapenopleiding hanteer. Hierdie boeke is teen afslagtariewe vir Agri SA lede beskikbaar deur Dotsquare Uitgewers te skakel by 0860 104 375.
Ferreira sê ten slotte “dat Agri SA, met behulp van hierdie ooreenkoms, die regte inligting met die vuurwapenlisensiëringsproses aan sy lede beskikbaar wil stel en hy vertrou dat dit sal bydra om verwarrende boodskappe die nek in te slaan.” Hy moedig graag medelede aan om van die gratis hulp gebruik te maak en onverwyld die inbelsentrum te skakel.