General

Beplande Landbouberaad

Die TLU SA Noordstreek, neem kennis van die beplande Landbouberaad wat deur die Minister van Grondsake en Landbou in die vooruitsig gestel word. Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noordstreek, verwelkom die geleentheid en spreek sy hoop uit dat die spanning rondom grondeise, wat huidig in die Limpopo Provinsie heers, sinvol bygelê kan word.
Joubert het gesê dat stabiliteit in die landbousektor van kardinale belang geword het. Indien die geleentheid op sake sal fokus wat landbou kan laat groei en lewe, sal dit van nasionale belang wees. Daar bestaan egter ‘n risiko dat die beraad misbruik kan word om emosies aan te blaas wat boere en hul werknemers op uiters onverantwoordelike wyse kan benadeel. Die situasie is reeds in sommige gebiede uiters plofbaar en ‘n emosionele beheptheid is die laaste ding wat die landbousektor kan bekostig.
Joubert het verder gesê dat grondeise ‘n maklike verskoning kan word om rassehaat aan te jaag. Hy het gesê dat dit uiters noodsaaklik is dat die geldigheid van grondeise bepaal moet word. TLU SA Noordstreek is in besit van heelwat dokumente wat aandui dat sommige grondeise nie aan die vereistes van die wet voldoen nie.
Benewens menselewens, is daar doodeenvoudig net té veel op die spel. Daarom kan dit net slaag indien hierdie sensitiewe saak deur alle betrokkenes met die uiterste verantwoordelikheid hanteer sal word.
Hy sê die Zimbabwe styl grondbesetting wat in die Louis Trichardt omgewing plaasgevind het waaraan die plaaslike munisipaliteit meegdoen het, behoort veroordeel te word. Hy het gesê dat die nasionale minister haar opinie behoort te lig in verband met die voorval sodat boere kan weet of die minister belangstel in die toepassing van die wet of in wetteloosheid.
Die suksesvolle afloop van ‘n Landbouberaad sal onder andere ook bepaal word deur voorafgaande impakstudies en die bespreking van wetenskaplike gefundeerde feite oor beleid wat huidiglik op die landbousektor impakteer. Joubert het ‘n beroep gedoen op die verantwoordelike politici en senior amptenare om die aanbieding van die beraad so te bestuur, dat objektiwiteit, regverdigheid en billikheid sal seëvier tot voordeel van almal in die landbousektor.