Krale modes is terug – Vroueblad
Die definisie van ‘n kraletjie is enigiets met ‘n gaatjie waardeur geryg kan word of wat gestring kan word. Krale is al vir eeue lank bekend en is aanvanklik gebruik as versiering of in ruilhandel. Vandag is krale egter oral te siene in huishoudelike artikels, klere, skoene, sandale, asook ander versierings soos haarknippies en sonvangertjies, om van juwele nie eens te praat nie!
Draad-en-krale goggatjies en -akkedisse asook kersboomversierings is gewilde items wat meestal op sypaadjies en straatmarkte te koop aangebied word. Die mees bekende en veelsydigste krale items is en bly egter maar juweliersware wat enige uitrusting die finale afronding gee. Handgemaakte juwele is net so uniek soos elkeen van ons wat dit dra. Daar kan onderskei word tussen vier soorte krale:
* Natuurlike krale is items in die natuur met ‘n gat of perforasie, wat gestring kan word.
* Egte krale is meganies vervaardigde krale uit grondstowwe soos byvoorbeeld glas (meestal gekleur of versier) of metaal. Skulpe en pêrels waardeur ‘n gaatjie geboor is, word ook as egte krale beskou.
* Aangepaste krale is items wat nie vervaardig word as krale nie, maar tydelik daarvoor aangewend kan word soos byvoorbeeld knope.
* Nie-funksionele krale is krale of items met gaatjies wat nie gestring of meer geryg kan word nie.
Wees gerus op die uitkyk vir die naam Beads, Bubbles & Unusuals – ‘n besigheid wat sy ontstaan in Thabazimbi gehad het en reeds landwyd en in Namibië handgemaakte juwele bemark. Plaaslik bemark Tania’s House of Flowers asook Bosveld Apteek bogenoemde juwele en bykomstighede.