Dr Martmarie sê – Vroueblad
Goeiedag liewe vriendin. Vandag gesels ons oor PMS (premenstuele sindroom). PMS word gedefinieer as ‘n versameling van psigologiese (sien later) en fisiese simptome wat ervaar word in die luteale fase van die menstruele siklus. Die luteale fase van die menstuele siklus verwys na die deel van die siklus tussen ovulasie, wanneer die eiersel vrygestel word, en menstruasie self.
Dit is met ander woorde die tweede helfde van die siklus. PMS is algemeen in 80% tot 90% van die menstruele siklusse. Slegs 5% van vrouens het sulke erge PMS dat dit inmeng met hul daaglikse lewens.
Die simptome van PMS is minder algemeen in die vroeë produktiewe jaar en word progressief erger met ouderdom (dit wil sê hoe nader vrouens na die menopause beweeg). PMS kom hoofsaaklik voor nadat groot veranderinge in hormoonvlakke plaasgevind het, byvoorbeeld na swangerskap of as ‘n vrou die gebruik van die pil gestaak het.
Ander toestande soos depressie, skildklier siektes, IBS (irreteerbare dermsindroom) moet uitgeskakel word voordat die diagnose van PMS gemaak kan word. Die oorsaak van PMS is onbekend, alhoewel daar baie teorieë daaroor bestaan. Vrouens met PMS het dieselfde vlakke van vroulike geslagshormone as asimptomatiese vroue. Dit is egter moontlik dat vroue met PMS meer sensitief is vir die normale ovariele siklus.
Daar is geen spesifieke diagnotiese toetse vir PMS nie. Die geskiedenis is gewoonlik baie belangrik in meeste gevalle. Vroue met PMS behoort behoorlik ondersoek te word deur hul dokter (veral borste, buik en bekken). Die dokter mag dit dan dalk nodig ag om verder ondersoeke aan te vra soos byvoorbeeld ‘n mammogram, sonar, skildkliertoetse en hormoonvlakke.
Psigologiese simptome van PMS is spanning, irreteerbaarheid, verandering in gemoed (mood swings), tranerigheid, aggressie, gevoel dat jy nie alles onder beheer het nie, depressie, lompheid, probleme met konsentrasie en lus vir sekere kossoorte (cravings).
Die fisiese simptome is opgeblasenheid, swelling en ongemak van borste, moegheid of lusteloosheid, gewigstoename, gewrigstyfheid, buikpyn en hoofpyn.
Die keuse van behandeling hang af van verskeie faktore naamlik pasient se verwagtings, hoe erg die simptome is en of voorbehoeding nodig is of nie. Die behandeling van PMS sluit die volgende aspekte in: Dieet, oefening, vitamiene B6, Aandblomolie, St John’s wort, kalsium, anti-depressante, Minerva – intra uteriene apparaat, Diuretika (waterpille), hormone (progesteroon of estrogeen), Danazol, die Pil en histerektomie plus ooforektomie (verwydering van eierstokke).
Bogenoemde behandelingsopsies word aangepas na gelang van elke pasiënt se behoeftes. Nie al die behandelingsmoontlikhede werk ewe effektief vir alle pasiënte nie. Soos jy seker kan aflei is PMS ‘n moeilik behandelbare toestand wat baie varieer van pasiënt tot pasiënt. Totsiens tot volgende keer.