General

Bring Afrika en moderne dekor bymekaar – Vroueblad

Om hierdie Vrystaatse plaasopstal lewe te gee met Afrika en moderne dekor, was ‘n groot uitdaging. In die Vrystaat is dit “woestyn” wêreld en dalk moes hier eerder ‘n sjeik genader gewees het om riglyne te gee met die stof en sand!
Theresea Marais, Vrystaatse boervrou, was vir baie jare ‘n inwoner van die bosveld en het met groot oortuiging haar man so ver gekry om vir haar ‘n sebra op hul plaas te skiet aangesien die sebravel soveel bekoring vir haar ingehou het.
Uiteindelik het sy die vel gehad waarna sy so lank gehunker het, en toe besef sy met ergenis dat dit nêrens by haar huis se dekor inpas nie. Maar ‘n boer maak ‘n plan. Met so bietjie raad hier en hulp daar, het sy haar sebra vel ingespan om haar sitkamer ‘n heel nuwe gesig te gee.
Haar victoriaanse-styl sitkamerstel (in vlootblou), moes die verandering weerstaan en daar is met alle oorgawe gesoek na die regte kleure om hierdie moderne en afrika style bymekaar uit te bring. Verskillende skakerings van pers en ook wit is gebruik om die donker kleure te breek en die uiteinde was iets uit ‘n ander wêreld.
Hier is baie gespeel met verskillende materiale, maar die sy het die deurslag gegee. Vir die wit gordyne is ‘n sebra motief gebruik in die wegbinders wat weer mooi afgerond is met donker pers fraaings. Sebramotief kussingkies is ook oral ingespan.
Die los matjie in die middel van die vertrek is “gedokter” en pers het lewe gekry in hierdie motiewe. Hier is van gewone lapverf gebruik gemaak en die baba-pienk kleure in die mat is oorgeverf met helder pers.
Die ysterbankie was eens bottelgroen, en ‘n laag swart verf het hierdie bankie ‘n gedaantewisseling laat ondergaan. Die sebravel en bankie is hier by die ingang gebruik waar dit die oog eerste tref en jou aandag vashou.
Nou wie het gesê “sebra se kind” en die “sjeik se sy lappe” kan nie saamgesnoer word nie?