General

Sewende Plek vir Thaba se Kiri

THABAZIMBI –  Kiri Oberholzer van Thabazimbi het daarin geslaag om sewende te eindig in ‘n baie nat “Mini Roof”, die derde rondte van die “ATV Powersport ITP national off-road championships” vir vierwielers.
Kiri (Polaris SA Racing Predator), was een van 36 deelnemers uit die 73 wat weggespring het, en daarin kon slaag om die wedren te voltooi. Die wedren is deur Cornel de Villiers (Bombardier Speed Quad) gewen, gevolg deur sy twee spanmaats, Carl Wichmann en Hendrik Potgieter.
Die “Mini Roof” word jaarliks in die Lesotho koninkryk aangebied. Vanjaar se wedren het egter ‘n ander draai geneem toe swaar reënval vir riviere vol water, wat die deelnemers moes oorsteek, gesorg het. Volgens die organiseerders was hierdie ‘n ware uithouren met die wenners wat die afstand van 236km in ses ure voltooi het. Dit gee ‘n gemiddelde snelheid van 40km/h. As gevolg van die langer tye wat dit geneem het om die riviere oor te steek, moes meer tyd toegelaat word wat die organiseerders genoop het om die wedren in drie sirkelroetes op te deel.
Na die eerste 76 sirkelroete was dit duidelik dat die hoër, swaarder en meer forser Bombardiers die riviere makliker hanteer het teenoor deelnemers soos Kiri wat groter vernuf aan die dag moes lê met sy Polaris. Daarby was dit die eerste Lesotho “Mini Roof” vir Kiri.
Heelwat deelnemers het tou opgegooi nadat hulle nie daarin kon slaag om met hulle vierwielers deur die riviere te kom nie of deurdat koppelaars uitgebrand het tydens hierdie rivierkruisings.