General

Laerskool Thabazimbi se Rekenaarsentrum kook

THABAZIMBI – Een van Laerskool Thabazimbi se ‘spogplekke’ is sy Rekenaarsentrum en dié is behoorlik aan die kook. Die sentrum het in 2000 sy eerste wankelende tree gegee, maar het spoedig vaartbelyn voortgesnel.
Met behulp van Futurekids-sillabusse en hul ondersteuning, word ‘n besondere hoë standaard gehandhaaf en die leerders vanaf graad R tot sewe sien uit na hulle weeklikse besoek aan die Rekenaarsentrum.
Die huidige graad sewes was in graad drie toe daar met rekenaaronderrig begin is. Hulle het nou ‘n redelike goeie agtergrondkennis en vaardighede in die Microsoft Office programme, naamlik Word, Excel, Publisher, Access en Powerpoint. Hulle werk met gemak in Encarta en ook ander opvoedkundige programme.
Daar is nou tot die groot stap oorgegaan om die kinders in te skryf vir die ‘SkillsPro Starter Award’ kursus. Hulle gaan die modules Keyboarding 1, Windows 1 en 2, Word 1, Excel 1 en Internet 1 doen en na afhandeling van elke module eksamen skryf.
Vir ‘n gemiddeld van 75% ontvang hulle ‘n sertifikaat wat ook die basis van verdere gevorderde kursusse vorm, vir die outjies wat dalk (privaat en ekstra) vorentoe sou wou gaan.
Me Rita Volschenk, Rekenaaronderwyser, sê sy is opgewonde oor die uitdaging en weet dat die leerders almal aan die einde van die jaar oor ‘n gesogte rekenaarsertifikaat sal beskik. Dit is ‘n unieke geleentheid vir ‘n laerskoolkind.
Daar is ook 24 van die personeellede wat op Dinsdae- en Donderdaemiddae, so voor en tussen die sportaktiwiteite deur, met groot entoesiasme besig is met rekenaaropleiding. Met al die eise wat aan vandag se onderwyspersoneel gestel word, is dit ‘n belegging wat nog groot en goeie vrugte vir die skool gaan afwerp.
In samewerking met mnr Johan Barkhuizen van Connectix, is me Volschenk en me Mara Wilsenach van die Beheerliggaam, besig met ‘n webblad vir die skool. Dit sal as ‘n opsie op die Thabazimbi-webwerf verskyn. Hulle hoop om dit teen Junie maand ten volle te bedryf, met tweeweeklikse opgraderings. Later dalk weekliks.